Gedagte vir die dag | Woensdag 2 November 2022

Matteus 11:28-29. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 

Daar is verskillende tipes moeg in die wêreld. Daar is die fisiese moegheid van min slaap, wat genees kan word deur ’n goeie middagslapie. Maar dan is daar ook ’n moegheid wat dieper sit, wat nie so maklik afgeskud kan word nie – maak nie saak hoe baie jy slaap nie, jy kan nie hierdie moegheid afskud nie. Dit is ’n moegheid wat diep in jou gemoed sit – ’n sielsmoegheid, wat jou onrustig maak. 

Die woord onrustig som dit mooi op. Iets wat jou onrustig maak, is iets wat rus van jou af weghou, iets wat rus by jou steel. Ons elkeen ken dit. Ons is in ’n stresvolle tyd van die jaar, in ’n stresvolle tyd van die wêreld, met ’n klomp dinge wat ons onrustig maak. Dikwels is besig wees ’n simptoom van die onrustigheid wat dieper in ons leef. Die einde van die jaar staan bekend as die selfdood-seisoen, nie omdat mense oorlaai word met werk nie, maar juis omdat mense dikwels ophou werk en dan besef die onrustigheid wat hulle beleef, lê dieper as wat hulle gedink het. Besig wees is dikwels ’n meganisme om die onrustigheid van ons gemoed te onderdruk. 

Raak vir ’n oomblik bewus van wat in jou gemoed aan die gang is. Wat maak jou onrustig? 

In hierdie uitnodiging van Jesus, praat Jesus oor hierdie tweede tipe moegheid en nooi ons uit om rus te vind by Hom. Jesus gee ons die belofte: ons sál rus kry vir ons gemoed wanneer ons rus vind in Hom.  

Ons kan Jesus vertrou met die onrustigheid in ons hart. Ons kan rus vind in Hom. Neem ’n oomblik om jou onrustigheid met Jesus te deel. 

[Stilte] 

Vir die volgende week gaan ons tyd deurbring met Jesus en God se uitnodiging aan ons om te rus.  Mag die Here vir jou in hierdie week al hoe meer bewus maak van die onrus in jou, sodat ons werklik rus kan vind in Hom. 

Kom ons bid saam 

Gebed 

Here, daar is so baie dinge wat swaar rus op my gemoed. Here, sien tog my onrus raak. U nooi ons uit om rus te vind in U. ’n Dieper rus vir my gemoed. Help my om my onrus by U neer te lê, sodat ek rus mag vind vir my gemoed.  

Amen