Gedagte vir die dag | Woensdag 2 Desember 2020

Jakobus 3:17-18.  “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.”

Hierdie teks kyk vandag diep in ons siel.  Dit sien al die gedagtes en perspektiewe wat tydens ons kontak met ander mense by ons opkom wanneer ons bedreig, kwaad of ontsteld voel. Hierdie gedagtes lê diep verskuil in die keuses en besluite wat ons daagliks neem. Die wysheid wat ons van God ontvang, deurdring hierdie gedagtes, emosies en perspektiewe wat ons oorheers.  Wat is die gedagtes en emosies wat jou vandag oorheers en waarvan jy sukkel om ontslae te raak?  Beskou dit vandag, in hierdie oomblik van stilte,  vir wat dit is: selfgerigte planne wat die potensiaal het om groot skade aan te rig. Laat daarom die Here toe om daardeur te sien en jou ware menswees te ontbloot – die opregtheid, bedagsaamheid, nederigheid en selfbeheersing wat ook in jou leef.

Gebed

Vader in die hemel, vroeg in die môre roep ek tot U. Gee my die woorde om met U te praat, help my om my verwarde gedagtes by U te bepaal. Ek kan nie op my eie bid nie, Here. In my is daar donkerte; by U is daar lig. Ek is eensaam; U verlaat my nie. Ek voel nietig en bang; U laat my nie alleen nie. Ek is rusteloos; by U is daar vrede. Ek vind bitterheid in my hart; U leer my geduld. U weë is onbegryplik; U ken die pad waarop ek gaan (Dietrich Bonhoeffer).