Gedagte vir die dag | Woensdag 2 Augustus 2023

Filippense 2:1-3. Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, en die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie net elkeen aan julle eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Ons praat dikwels hoe belangrik dit is om voortdurend geestelik te groei deur ons kennis van God te verdiep. Daar is egter ook ’n belangrike kant van geestelike groei wat te doen het met die wyse waarop ons kies om tussen ander te leef. Die kern daarvan het te doen dat ons nie net altyd aan ons eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Filippense 2 praat met ons oor God wat homself nie aan sy goddelikheid vasgeklem het nie, maar bereid was om die gestalte van ’n mens aan te neem en Homself nog verder verneder het deur te ly en sterf.

Wat is die dinge waaraan ons vasklou wat verwydering tussen ons en mense bring? Dink vir ‘n oomblik hoe ons geld, prestasie, status en intellektuele vermoëns die potensiaal het om elke dag hierdie verwydering mee te bring. Uiteindelik kom ons onsself te na wanneer ons verby wonderlike geleenthede skiet waarin ons lewe nuwe waarde kon kry. Probeer om vandag te fokus op die belange van ander mense en gun jouself die geleentheid om iets besonders te kan beleef wat jou aanspoor om dit deel van jou lewensritme te maak.

Gebed

Here, begenadig my vandag met die deugde wat net U kan gee: ‘n nederige, geduldige en vredeliewende geaardheid. Help my om verby my eie behoeftes te kyk wat elke dag so ’n hoë prioriteit geniet. Bevry my vandag van die angs wat in my leef, omdat ek dink dat ek nie genoeg het nie en myself verbeel dat ek meer nodig het. Laat my vind dat die meer van die lewe nie met my eie behoeftes te doen het nie, maar met dié van ander. Dankie dat ek vandag daarin iets nuut kan ontdek wat my menswees inspireer.

Amen.