Skrifgedeelte | Jesaja 40
Een van die oudste klagtes, wat alreeds in die Ou Testament na vore kom, is dat God my nie raaksien nie. Die volk het dit in Jesaja 40 uitgeroep, na aanleiding van hul haaglike omstandighede.
“Sien die Here dan nie meer raak wat van ons word nie? Kyk Hy verby ons?” Ook hier in Stellenberg kyk ons na hoop en praat ons oor hoe ons hoop kry in die feit dat God ons raaksien in ons unieke omstandighede.
Vir die volgende paar dae, wil ek graag fokus op hierdie tema of vraag: “Sien God ons nog raak? Sien God my raak?”
Ek is geïnspireer deur dagstukkies van Benescke Janse van Rensburg op die webtuitste “Vers-’n-dag”. Ek gaan iets van hierdie dagstukkies, met erkenning aan haar en haar webtuitste, aanhaal in die volgende paar dae rondom hierdie bepaalde tema.
Daar is ’n baie interessante Zulu woord: “Sawubona” wat beteken “ek sien jou” As hierdie woord gebruik word, sê die een vir die ander: “Rk sien jou, ek erken jou vir wie jy is, en ek kyk nie verby jou nie.” Dit is asof die Here veral in ons omstandighede ook hierdie Zulu woord aan ons wil rig. “Ek sien jou raak”.
Ja, dit is traumatiese tye waarna ons telkens verwys. Ons weet egter ook dat in hierdie doringdraad-ervarings van ons tyd, daar tog ook blomme op die doringdraad kan verskyn. Simbole van hoop, inspirasie, en ons hoop is gevestig op die feit dat God ons raaksien.
Hier is drie teksverse wat dit bevestig:
Psalm 33:13: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon. Dit is Hy wat hulle verstand gevorm het, wat al hulle werk deurgrond.”
Matteus 10:30: “Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
Spreuke 15:3:” Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop”
God sien ons raak, Hy weet van al ons verknorsings, ons hartseer in verhoudings, ons uitdagings met ons gesondheid en druk in die werksomgewing. Wat gaan ons daaraan doen? Dit alleen dra? Of gaan ons dit in die geloof aan God oorgee, met die wete dat Hy vandag, gister en tot in ewigheid dieselfde God is.
Gebed
Vader God, baie dankie dat ek nie alleen is nie. Dankie dat U my raaksien en van my en my omstandighede bewus is.
Amen.