Gedagte vir die dag | Woensdag 19 Januarie 2022

Dit is belangrik dat ons na ons denke kyk, want dit is duidelik dat ons denke baie van ons leefwêreld kan bepaal. Daarom wil ons in hierdie dagstukkies kyk na hoe ons dink sodat ons kan nuut dink oor die lewe. Luister saam met ons en dink nuut oor jou lewe. . .

Stan Toller skryf in sy boek Total Quality of Life: “Gedagtes word gesindhede, gesindhede word gedrag. Gedrag word gewoontes. Daarom is die sleutel tot beheer oor jou lewe om jou gedagtewêreld te beheer.”

’n Hospitaalstudie wat in Boston, Amerika onder sielkundiges gedoen is, het interessante resultate meegebring. Hulle het gekyk na die impak van denke op pasiënte se gesondheid. Verpleegsters is gevra om vir pasiënte wat nie in kritieke toestand is nie met ’n negatiewe ingesteldheid te behandel. ’n Ander groep verpleegsters is weer gevra om met ’n positiewe ingesteltheid teenoor kritieke pasiënte op te tree. Die bevindings was dat die kritieke pasiënte gesonder geword het en die nie-kritieke pasiënte sieker geword het. Dit bewys aan ons dat ons denke ons leefwêreld kan domineer en selfs ons gesondheid beïnvloed. Die antieke mense het iets hiervan verstaan, Paulus praat dikwels in sy briewe oor hoe ons anders moet begin dink oor die evangelie om die volheid van God te beleef.

In sy brief aan die Romeine skryf hy die volgende:

Romeine 12:1-2. En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Paulus skryf dat God ons denke wil vernuwe, juis sodat ons anders dink om anders te kan leef. Hoe moet jy jou denke vernuwe om anders te leef in die nuwe jaar?

Die pandemie het ons met negatiewe ingesteldhede gelaat, ons moeg gemaak en ons miskien honger gemaak vir ’n lewe wat anders is. Dit is duidelik dat wanneer ons ons denke verander ons ook die samelewing anders kan benader en verander.

Gebed:

Here dankie dat ons vandag hier in die begin van die jaar weer kan besef dat ons die realiteit waarin ons leef kan verander. Dat ons anders kan dink om ander te leef. Here, die gebed van ons harte is dat U ons denke sal kom vernuwe sodat ons in 2022 kan leef soos U ons roep.

Amen