Agtergrond, die Verlossing by Mispa.
1 Samual 7:12: Toe het Samuel ‘n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen, en dit Ebenhaéser genoem en gesê: Tot hiertoe het die Here ons gehelp. (Ebenhaéser: Beteken klip en help, met ander woorde die Here het ons gehelp).
Op ’n vraag aan iemand oor hoe dit met hom gaan, het hy geantwoord: “Baie goed dankie, maar oor my probleme gaan ek niks sê nie, omdat ek al agter gekom het dat mense nie van jou hou as jy hulle daarvan vertel nie,” met ander woorde as jy heeltyd oor jou probleme praat nie. Dit was ’n terloopse antwoord, maar dit het tog in my gedagtes vasgesteek. Ons ken almal sulke mense – jy gee hulle net so ’n klein kansie, en dan begin hulle praat oor wat hulle doen en al die probleme wat hulle het.
Natuurlik moet ons almal soms na dinge wat in die verlede gebeur het terugkyk, en hou ons nie noodwendig altyd van alles van wat ons sien nie. Gelukkig kan ons ook terugkyk na gebeure op ons lewenspad wat ons tot dankbaarheid stem, wat ons laat glimlag en waardering by ons opwek. Dalk sal ons eendag na 2020 terugkyk en dink, waar is daardie dae?
Ek onthou nog hoe Cobus Otto, my buurman, tydens die inperkingstyd, die reëling getref het dat almal wat in die straat woon soggens 09:00 buitentoe tot op ons grasperke uit gaan. Jy het nie eers jou voet in die straat gesteek nie, en tog kon ons saam gesels en kuier, en het selfs nuwe bure ontmoet.
So kan ons terugkyk op ’n baie interessante jaar – vir sommige veelysend en uitdagend. Maar wat van die pad vorentoe? Ek het sommer weer gedink aan iets wat ek jare gelede gelees het oor die afskeidswoorde van President Paul Kruger, vanuit sy huis in Clarence, Switserland, waar hy oorlede is. Dis al meer as ’n 100 jaar gelede. Wat ’n mens ookal van die ou leier, Paul Kruger mag dink, een ding moet ons verseker weet, dit was wyse raad dat ons op die goeie van die verlede moet fokus, dat ons dit moet neem en ons toekoms daarop moet bou.
Daar is ongelukkig so baie doemprofete en swartgalliges wat ons gedurig wil laat terugkyk en ons aandag wil vestig op die wrakke en slaggate agter ons. Wanneer hulle in die tru-spieëltjie kyk, sien hulle net alles wat sleg en treurig is, soos hoe swak dienslewering byvoorbeeld is. Dit is ook nodig dat ons almal gereeld ons tru-spieëltjies skoonmaak en die mooi tonele om ons raak sien. Baie motors het ’n tru-spieëltjie wat jy kan stel wanneer iemand agter jou ry, sodat die motor se ligte nie op jou skyn nie. Ons moet die truspieëltjie van ons lewens ook soms oorstel en regstel.
Dit is wat Samual gedoen het, na sy volk se oorwinning waarvan ons in 1 Samuel 17 gelees het. Samuel het ’n klip geneem, dit regop gesit, en die plek Ebenhaéser genoem want, 1 Samual 7:12 sê: Tot nou toe het die Here ons gehelp. Dit is so verskriklik maklik om in negatiwiteit en in selfbejammering te verval, dit is so kosbaar as ’n mens partykeer met mense praat en hulle jou vertel hoe hulle deur hierdie tyd gekom het.
Ek het gister met ’n oud-lidmaat van die gemeente, Zack Benadé, gesels. Hy het my vertel hoe hy ’n klomp droogskoonmakerbesighede het en hoe hulle gesukkel het om deur die Covid-inperkingstyd te kom en steeds sukkel om te herstel. Ek dink hulle funksioneer darem nou op so 70% van hulle normale omset. Maar wat vir my uitgestaan het is hoe hy nie in selfbejammering verval het nie, maar hoe so iemand ’n wilsbesluit neem om sy tru-spieëltjie te verstel en dankbaar te wees vir al die kere wat die Here hom veilig op sy lewenspad begelei het. Om dit raak te sien, te waardeer en te verbaliseer. So word nie net ons self nie, maar almal rondom ons bemoedig. Let gerus daarop, iemand wat geleer het om ander te bemoedig en te ondersteun is nooit eensaam nie. Maar dan moet jy eers seker maak, dat jou tru-spieeltjie skoon en reggstel is.
Gebed:
O Heer van nasies, aan u sorg wil ons ons toevertrou. Dankie dat die verlede, maar ook in besonder die toekoms aan U behoort. Ons wil die toekoms op u woord en beloftes bou.
Amen.