Ek was baie bevoorreg om twee keer hierdie jaar ’n brugleraarskursus by te woon by die Andrew Murray Sentrum in Wellington. Vir ses keer tydens hierdie twee modules, het ons by een gedeelte in die Bybel stilgestaan in ons wandel-deur-die-woord-sessies. Aanvanklik kon ek nie glo dat ons vir ses keer by een onbekende hoofstuk uit ‘n onbekende boek gaan stilstaan in ons bespreking en Bybelstudie nie. Die hoofstuk was uit een van die onbekende boeke in die Bybel (waaruit ons maar min lees en preek) naamlik, Numeri. En dan spesifiek hoofstuk 13.
Ek wil tydens drie van ons dagstukkies hierdie week ’n paar keer stilstaan by hierdie aangrypende hoofstuk. ’n Stukkie geskiedenis van die volk van Israel wat deur die woestyn trek, oppad na hul beloofde land toe. Ek hoop en glo dat baie van toepassing gemaak kan word op ons situasie vandag in Suid-Afrika.
Numeri 13:1: 1Die Here het vir Moses gesê: 2“Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat ‘n leier onder hulle is.17Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe. 18Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is.
Hierdie stukkie geskiedenis is baie bekend aan ons. Vir vele jare trek Moses al met ’n weerbarstige volk onder moeilike omstandighede deur die woestyn, oppad na ’n land wat God aan hulle beloof het. Hy en Aaron staan aan die hoof van hierdie sending of te wel trek. Waarskynlik nie baie ver van die beloofde land af nie, besluit hy om mense, verkenners en leiers uit die groep, vooruit te stuur en die land te gaan verken. Onder hulle is onder andere Joshua en Kaleb. Die res verteenwoordig die ander stamme van Israel. Hul opdrag is om uit te gaan, te gaan kyk en waar te neem waarheen hulle oppad is. Party mense noem hulle verspieders, ander verkenners. Die feit is, hulle is geïdentifiseer as leiers, en uitgestuur vir ’n baie belangrike en ’n bepaalde taak. Hulle moes gaan kyk na die land waarheen hulle oppad is.
Ek het die afgelope paar dae baie hieroor nagedink. Dit is so belangrik dat daar leiers in plek moet wees wat uitgaan om te verken. Om waar te neem wat in die land aangaan en hulself te vergewis met die situasie, ook soos Nehemia destyds gedoen het, toe hy gaan ondersoek instel het oor die toestand van sy land na die ballingskap.
Ek glo die Here stuur steeds vandag mense uit na alle verskillende uithoeke van die wêreld, ook in ons eie land,gemeenskappe, skole, werksplekke, om waar te neem wat is besig om aan te gaan. Hoe gaan dit in ons land, hoe gaan dit met ons mense? Leiers het hierdie taak om waar te neem, om in te neem, en hulle te vergewis met wat aangaan, sodat aksie geneem kan word. So, glo ek, is ek en jy ook gestuurdes, in ’n sin verkenners, om uit te gaan en waar te neem en ons te vergewis van wat aangaan in ons wêreld, sodat aksie geneem kan word en baie spesifiek gebid kan word, en om medeverantwoordelikheid te aanvaar vir wat aangaan.
Mag die Here ons help om verkenners te wees, ook in ons eie tyd.
Gebed: Here, dankie dat u ook vir my wil stuur om my te vergewis met wat in ons wêreld en land aangaan, sodat ek meer doelgerig kan bid en ’n verskil kan maak.
Amen.