Lukas 1: 26-38. 6In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” 29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” 34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” 35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, ‘n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ‘n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.” 38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.
Ons gesels die afgelope paar weke in ons preekreeks oor wat dit beteken om in geloof te groei en om deur God gevorm te word en te verander. As Frederick Buechner, ’n bekende teoloog skryf oor Maria, die ma van Jesus, speel hy met die gedagte dat Maria dalk nie die eerste vrou was, na wie God, Gabriel gestuur het met die boodskap nie – sy was dalk net die een wat ja geantwoord het. Soms kan ons hele wêreld deur ons keuse van ’n antwoord verander word. Min van ons sal ooit ’n antwoord hoef te gee op ’n boodskap van Gabriel, maar almal van ons word wel daagliks uitgenooi om ja te se vir liefde, ja vir vergifnis, ja vir die hoop wat in ons leef en ja vir waarheen God ons roep.
Ek dink om ja te sê, skep soms ’n ruimte waarbinne ons die meeste gevorm word, groei en verander. Dit was ook waar vir Maria op al die draaie van haar lewe. Sy herinner ons dat groei soms beteken om ook ja te sê vir die volgende tree in jou lewe, vir die groot goed maar ook vir die klaarblyklike alledaagse normale dinge. Maria se lewe herinner ons dat om ja te sê vir waarheen God ons roep, is om te vertrou dat God alreeds aan die ander kant van die antwoord vir ons wag. Daarom kon Maria dit elke keer waag om ja te antwoord. Sy het dit gewaag om die volgende tree in haar lewe te neem want sy het geglo dat God alreeds daar was. Dit was vir haar ’n troos.
Mag dit ook ’n troos wees waaraan jy vashou soos jy die volgende tree in jou lewe neem.