Jesaja 26:3. “En die wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here is ’n veilige toevlug”
Hierdie teks, wat deel is van ’n lied, was gesing deur gelowiges wat in Jerusalem gewoon het en gevrees vir hulle lewens en toekoms. Hulle was oorweldig deur internasionale politieke gebeure en ’n dreigende oorlog en geweld waaroor hulle geen beheer gehad het nie. Dit vertel hoe hulle dan hulle toevlug in die stad Jerusalem wat deur hoë mure omring is, vind. Hier sal God ons veilig hou. Maar dan vertel die teks hoe God die situasie verander deur die stad se mure af te breek, sodat die nasies van buite in die stad kan ingaan om ook daar God se vrede te beleef. Daarop volg ons teksgedeelte . . . “dat die Here in hierdie situasie aan ons vrede en voorspoed sal gee”.
Ons geloof en kerk kan soos die stad Jerusalem vir ons ’n wegkruipplek raak waarbinne ons die nodige veiligheid en troos soek, maar waarbinne vrees en frustrasie ook oorheers. Vandag se teks herinner ons aan ’n vertroue en vrede wat veel groter is en waarvoor mure nie nodig is nie. Hoe help hierdie teks jou vandag om in die realiteite wat jou as gelowige bang maak en ontstel, te leef? Moenie toelaat dat hierdie vrees en frustrasie jou vandag gevange hou en jou ontneem van die geloof waaroor die gedeelte in Jesaja met ons praat nie.
Gebed
Here, help my vandag met ’n nuwe perspektief oor die dinge wat in die wêreld om my gebeur en waaroor ek geen beheer het nie. Ek is geneig om as gelowige altyd maar op dieselfde manier te reageer. Ek sien die gevaar en bou mure en so raak my eie wêreld al kleiner en die gevaar daar buite al groter. Help my daarom vandag met die perspektief dat U groter is as my kerk en godsdiens en dat U my vandag kan help om ook daarbuite vrede te bring. Help my vandag om ’n wêreld, waarvoor U lief, is raak te sien.