Welkom by hierdie week se dagstukke van Rus. Dit is vandag Woensdag 16 November.
Ons teksvers van rus vandag is Markus 6:31. Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.”
Die jaar 2022 is alweer amper op sy rug en ’n mens begin al uitsien na die rus en vakansie wat voorlê. Met volgelaaide skedules, swaar werklaste en selfoonalarms wat aanhoudend deur die dag afsprake aankondig, kan ons totaal uitput en sonder energie gelaat word. Dit is dus uiters belangrik dat ons gereeld tye moet inruim vir afsondering en rus en dit nie net een of twee keer ’n jaar nie. Ons moet daagliks gereeld tyd maak waar ons in die liefde van Jesus Christus kan ontspan. Sodoende vul Hy ons weer met nuwe krag en energie vir dit wat dfeur die loop van die dag van ons verwag word. Na gees, siel en liggaam sal Hy ons weer verkwik!
Dit maak nie saak hoe besig ons is nie, net ’n oomblik is nodig om ’n bietjie te rus. Ons maak ons gedagtes stil en ontspan ons liggame. Stadig en diep asem ons in, en terwyl ons uitasem, raak ons ontslae van al die probleme en bekommernisse wat ons deur die dag geteister. Ons fokus met ons volle aandag op God alleen.
Mag jy vandag oomblikke van asemhaal beleef. God se liefde in en dankbaarheid uit.
Gebed:
Here, bring ons by plekke van ware rus. Verfris ons soos U, U Gees oor ons uitgiet.