Gedagte vir die dag | Woensdag 16 Februarie 2022

 

Ons gaan die volgende paar dae saam met ‘n paar karakters uit die Bybel wandel. Mag jy uit hulle inspirerende verhale ook krag vir jou eie lewe ontvang.

Gen 22:2.  God sê vir hom: “Neem jou seun, jou enigste seun, ja, vir Isak wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys.”

Hierdie opdrag van God moes groot spanning by Abraham veroorsaak het.  Miskien het hy eers gedink dat hy God verkeerd verstaan het. Hoe kan dit wees dat God van hom verwag om die seun waarvoor hy so lank moes wag te gaan offer? Maar Abraham praat nie teë nie.  Sommer vroeg die volgende môre vertrek hy, twee slawe en Isak na die offerberg.

Op die derde dag, toe hule die berg in die verte sien, gaan Abraham en Isak alleen verder. Op Isak se vraag waar die offerlam dan is, antwoord Abraham dat God self sy eie offerlam sal voorsien.

By die plek wat God vir hom gewys het, bou Abraham toe ’n offeraltaar en maak sy seun bo-op die hopie hout op die altaar vas.  Abraham se hart moes gebreek het, maar hy deins nie terug nie.  Maar toe hoor hy God se stem: “Los jou seun, nou weet Ek dat jy My dien.” Toe Abraham rondom hom kyk, sien hy ’n ram wat aan sy horings in ’n bos vassit.  Hy het die ram geneem en in Isak se plek geoffer.

Nou moet ek myself ook vandag afvra: “Hoe gehoorsaam is ek aan God?”

GEBED

Here, gee vir my die geloof en gehoorsaamheid van ’n Abraham dat ek bereid sal wees om U opdragte na te kom.  Amen

(Geneem uit: Jy is Myne deur Nina Smit)