Gedagte vir die dag | Woensdag 16 Desember

Filippense 4:13 Vir al hierdie dinge sien ek kans, omdat Christus my die krag daarvoor gee.

Ek het gewonder wat my invalshoek vanoggend moet wees. Ons kan oor versoening en die situasie in ons land praat, maar na aanleiding van Fillippense 4 het ek besluit dat ek graag wil sê dat een mens kan ’n verskil maak. Ons kan baie praat oor wat op politieke vlak moet gebeur en watter rol politieke leiers moet speel, maar uiteindelik moet ons onsself af vra of ons bereid is om self ‘n verandering in ons land te maak.  Is jy bereid om in jou huis, straat, woonbuurt, stad, dalk ‘n plaas of werkomgewing ’n verskil te maak.

Tydens die Krimoorlog was duisende soldate beseer en gewond en hulle is destyds onversorg en aan hulle eie lot sonder verpleging oorgelaat.  Toe het een mens, Florence Nightingale in 1854 saam met ‘n groep verpleegsters na Skutari vertrek om die nood van die lydendes te gaan verlig.  Koningin Victoria het later aan haar ‘n borsspeld gestuur met die woorde geseënd is die sagmoediges op gegrafeer.  Daar word vertel dat ’n sterwende soldaat vir haar gefluister het –  Jy is my Christus.  ‘n Ander naam wat by ‘n mens opkom wat op soortgelyke wyse ’n verskil gemaak het, is Moeder Theresa.  Ons hoef nie almal ‘n moeder Theresa of Florende Nightingale te wees nie.  In ons land is daar talle mense wat in armoede gedompel is.  In die Oos-Kaap is die werkloosheidsyfer tans meer as 46% en die media het onlang weergegee dat geld vir behuising heelwat verminder is.  Wat doen ons om ‘n verskil te maak en mense se nood te verlig?

Wanneer ‘n mens deur die Bybel blaai besef ‘n mens dat in talle krisisse was dit gewoonlik een mens wat ‘n verskil gemaak het.  Dink aan Noag, Moses, Esther, Daniël, Johannes die Doper, Petrus en Paulus.  Moenie die heldedaad van Paulus se nefie in Handelinge 23:16 vergeet nie.  Onthou veral die eensame man van Nasaret wie se reddingsdaad die lot van alle mense verander het.  In ‘n komplekse land soos ons s’n verwag die Here dit van ons om ‘n verskil te maak.  Maar ons moet dan om ons kyk en die mense om ons raak sien en nie net aanhou hemel toe kyk nie.

Soos Moeder Theresa aan iemand gesê het: “Find you’re own Kolkata.”

Die aanhaling van Edward Everett Hale: “I am only one, but still I am one. I can not do everything, but still I can do something and because I can not do everything, I will not refuse to do something that I can do.”

Ek sal in ander woorde nie teëstribbel, of weier om dit te doen wat ek moet, of kan doen nie.  Veral daar in my en jou eie Kolkata en dit is oral om ons.  Mag die Here vir my en jou die genade en die gees van versoeining gee om prakties en aktief aan sy genade gestalte te gee.

Gebed

Here help ons om hierdie verskil te maak.  Ons besef ons is net individue en dat ons nie alles kan doen nie, maar dat ons iets kan doen.  Gee ons die genade om die versil te maak waar u ons ook al plaas.