Gedagte vir die dag | Woensdag 15 September 2021

Genesis 1:3.  Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was Lig.

Dit is baie interessant dat God in Genesis eers die lig geskep het en daarna die dag en die nag. Die skrywer van die skeppingsverhaal dink dus nie noodwending aan die fisiese konsep van lig en donkerte nie, maar wou eerder uitdrukking daaraan gee dat God die skepper is wat alles in die lewe totstand gebring het.  Ons gebruik so dikwels die uitdrukking “dis nag” om aan te dui dat ’n mens jouself op ’n sinnelose plek bevind waar jy van die lewe gestroop voel. Die lewe kan in helder daglig vir jou donker of nag word.  Hoor wat sê Psalm 23 hieroor.  “Al gaan ek deur donker dieptes, ek sal nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig”.

Ons almal ken plekke van moedeloosheid waar jy gestroop van die lewe voel.  Of jy bevind jouself dalk in die teenwoordigheid van iemand wat so voel.  ’n Mens besef ook dat daar nie vinnige en maklike antwoorde is wat die lewe eensklaps kan verander nie. Tog stel geloof ons in staat om in “donker dieptes” te kan lewe. Terwyl dit om ons nag is, glo ons dat die Here ons voortdurend daardeur lei. Dit is juis hiermee waardeur die Here ons kom verras en verander.