In hierdie reeks dagstukkies fokus ons op Kersfees en hoe Jesus Christus die Kersboom kom omkeer sodat die ster wat gewoonlik op die bokant van die boom is, nou aan die voet sit. Jesus Christus het vir ons kom wys dat God ons met ons menslikheid kom konfronteer.
Ek is baie lief vir Kersfeestyd. Kersfees is vir my ’n tyd van familietradisies. By die Ackermans het ons elke jaar ’n tradsie wat op die kinders en kleinkinders in die familie gefokus is. Die kinders versier die Kersboom en op Oukersaand het ons ’n groot familiebraai. Iemand trek dan soos Kersvader aan en deel die geskenke aan die kinders uit. Die jongstes onder die kinders glo nog dat die ou man met die wit baard bestaan, al verander sy figuur elke jaar.
Die tradisie van Kersfees het vir my as kind lank gedraai rondom geskenke en die familie wat saamkom. Dit is ’n tyd van feesfiering vir almal van ons. Nou dat ek ouers is, het die ware verhaal van Kersfees vir my ’n dieper betekenis.
Kom ons lees saam Matteus 1:1-17
Die geslagsregister van Jesus Christus
(Luk. 3:23-38)
1Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham: 2Abraham was die vader van Isak, Isak van Jakob, en Jakob van Juda en sy broers; 3Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, Peres van Gesron, en Gesron van Ram; 4Ram was die vader van Amminadab, Amminadab van Nagson, en Nagson van Salmon; 5Salmon was die vader van Boas by Ragab, Boas van Obed by Rut, Obed van Isai; 6Isai was die vader van koning Dawid. Dawid was die vader van Salomo by die vrou van Urija; 7Salomo was die vader van Rehabeam, Rehabeam van Abia en Abia van Asa; 8Asa was die vader van Josafat, Josafat van Joram, en Joram van Ussia; 9Ussia was die vader van Jotam, Jotam van Agas, en Agas van Hiskia; 10Hiskia was die vader van Manasse, Manasse van Amon, en Amon van Josia; 11Josia was die vader van Jojagin en sy broers. Toe is die volk weggevoer na Babilonië toe. 12En na die Babiloniese ballingskap was dit so: Jojagin was die vader van Sealtiël, en Sealtiël van Serubbabel; 13Serubbabel was die vader van Abihud, Abihud van Eljakim, en Eljakim van Asor; 14Asor was die vader van Sadok, Sadok van Agim, en Agim van Elihud; 15Elihud was die vader van Eleasar, Eleasar van Mattan, en Mattan van Jakob; 16Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word. 17Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap af tot by Christus.
Geslagsregisters is iets wat ons hier in 2021 dalk nie lekker verstaan nie. In die Antieke tyd het dit egter baie waarde gehad, juis omdat dit iets van jou identiteit weerspieël het. Jou vader en moeder en jou stam het saak gemaak. Wie in die register aangeteken is vertel vir die mense iets van die tipe Koning wat jy byvoorbeeld is. Matteus lê opsetlik die register van Jesus uit in Matteus 1, en kyk wie is daarin.
Die vrouens wat genoem word is merkwaardig: Tamar, Ragab, Rut asook Dawid die groot koning wat vir Salomo gehad het by die vrou van Urija. Die vrouens in dié register was almal gebroke, prostitute, agteraf en egosentries. Is dit die geslagsregister van die Koning van die Konings?
Matteus wys vir ons dat Christus kom na ons toe in gebrokenheid. Nie as ’n figuur wat welvaart weerspieël nie, maar die koning wat binne ons stukkende lewe met ons kom vereenselwig.
Mag jy in Kerstyd dink aan die koning wat in gebrokenheid kom eerder as welvaart, mag jy Jesus beleef as die een wat saam met jou kom sit in die seer van die lewe.
Gebed:
Here, dankie dat U nie gekom het as ’n figuur wat vir ons ’n illusie oor ’n heel wêreld wil skep nie. Dankie dat U saam met ons kom sit in ons seer en ons menswees. Ons aanbid U as die mensgebore Koning van die Konings. Amen