Romeine 8:35 & 37-39 “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
Die enkelvoudige boodskap waarmee die Here jou vandag uit Romeine 8 wil bemoedig, is die volgende: “My liefde vir jou staan onwrikbaar vas.”
God weet dat ons uitgelewer voel aan die impak van ’n onveilige land, siektes, finansiële druk en vele ander uitdagings en dat die dinge ons magteloos en buite beheer laat voel. Ons is baie bewus van ons eie nietigheid en verganklikheid. Dit is waarom God ons wil oortuig dat sy liefde vir ons onwrikbaar vas staan. Ten spyte van al hierdie uitdagings.
Dit is vir ons baie moeilik om slegte omstandighede met liefde te assosieer. Ons vereenselwig liefde met ’n gevoel van genoegdoening, tevredenheid, vervuldheid. Slegte omstandighede gaan gepaard met pyn, onrustigheid en ontwrigting. Wat het dit met liefde te doen? Ons moet besef dat omstandighede nie God se liefde verander nie. Dis steeds die liefde van ’n versorgende Vader. Dit is soos die liefde van ’n ma wat haar huilende kind styf teen haar vasdruk. Dis die kosbare liefde van God. Niks in die hemel, of op die aarde kan ons van hierdie Goddelike liefde skei nie.
Sodra ons oor God se liefde praat, dink ons aan Jesus. Ons sien God se liefde in die persoon en werk van Jesus, tot daar waar Hy sy lewe vir ons, uit liefde, aflê.
Kom ons sê weer: Romeine 8 wil ons vry maak van vrees en bekommernis. Romeine 8 het ten doel om ons te troos en gerus te stel. Dit gaan oor ‘n troosvolle bevestiging van God se getrouheid, ongeag omstandighede.
GEBED
Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Kom bring na Hom jou hartseer en jou pyn.
God sal voorsien; in donker tyd van seer
sal sy genade helder oor jou skyn.
Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Net Hy genees ons hart se diepste seer. Amen