Gedagte vir die dag | Woensdag 13 September 2023

Die derde tema van gebed is ’n gebed van bemagtiging, waarin God se karakter beskryf word, wat vir ons ook hoop en bemagtiging bring. Vir hierdie tipe gebed draai ons na die profete en spesifiek vandag na Jeremia:

Jeremia 9:24

Laat hom wat wil roem, daarin roem

dat hy insig het en My ken.

Ek is die Here.

Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde,

want dit is wat Ek wil hê, sê die Here.

Refleksie

Dit is amper vreemd dat ons in gebed God beskryf, want dit is tog nie asof God nie weet wie Hy is nie. Selfs hier in Jeremia, waar Jeremia in die eerste persoon namens God praat, is die gebed nie ter wille van God nie, maar ter wille van ons wat die woorde sê of hoor. Dit nooi ons om te reflekteer oor die karakter van God en rus te vind in wie God is. Ons kan rus daarin vind dat God ’n God van liefde, reg en geregtigheid is.

Wanneer ons oor God se karakter reflekteer in gebed, lei dit ons ook om anders te leef. Later in Jeremia 22:3 word dit duidelik: “So sê die Here: Handhaaf die reg en wees regverdig! Red dié wat beroof word, uit die mag van die uitbuiter, ook die vreemdeling, die weeskind en die weduwee. Moenie die reg vertrap nie, moenie geweld pleeg en moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie plek nie.”

Omdat God regverdig is, behoort ons ook regverdig te wees en wanneer ons oor God se karakter bid, inspireer of bekragtig dit ons om ook so te leef.

Reflekteer vir ’n oomblik oor die eienskappe van God. Deel vandag in gebed wie die Here vir jou is. Neem ook ’n oomblik om stil te wees in gebed en toe te laat dat die Here se karakter jou inspireer om anders te leef.