Gedagte vir die dag | Woensdag 13 Oktober 2021

 

Johannes 13:5. “Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.”

Mense het destyds iets soos plakkies aan hulle voete gedra (m.a.w. ’n velsool met riempies om die sool aan jou voet vas te maak). Jou voete was dus gewoonlik stowwerig as jy van buite af kom.  Aangesien hulle destyds op banke rondom ’n tafel gelê en eet het, was dit onafwendbaar dat jou voete naby die gesig van die persoon wat langs jou gelê het sal lê en wie wou nou met vuil voete langs iemand anders lê en eet? Die gasheer wat die ete aanbied moes gewoonlik reël vir die voetewassery. Die onbelangrikste persoon in die huis (soos ’n slaaf) moes gewoonlik hierdie werkie verrig.  As deel van die voetewas is daar dikwels ook parfuum oor die voete gegooi, sodat die voete nie alleen skoon was nie, maar ook lekker geruik het. Dan was die ete sommer ook baie aangenamer.

Op ’n keer terwyl Jesus en sy dissipels besig was om te eet, het Hy van die tafel af opgestaan. Hy het sy bokleed uitgetrek en ’n doek om sy lyf vasgemaak. Jesus het water in ’n bak gegooi en begin om die dissipels se voete te was. Nadat Hy hul voete gewas het, het Hy dit afgedroog met die doek wat om sy lyf was. Die boodskap is dat Jesus sy volgelinge twee goed wou leer: nederigheid en ’n bereidheid om te dien.

Dit gaan nie net oor die verstommende handeling waarin Jesus Sy dissipels se voete gewas het nie, maar ook oor wie se voete Hy gewas het.  Hy het hulle almal se voete gewas al het Hy reeds geweet dat Judas Hom gaan verraai en aan sy moordenaars gaan oorgee. Hy het klaar geweet dat Petrus Hom sou verloën en drie keer sou ontken dat Hy nie Jesus se dissipel is nie.

Is ons bereid om die handdoek op te neem en ons medemens se voete te was?  Die keuse berus by ons self. Deur ons medemens te bedien, word ons roeping vervul. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel, tesame met die opdrag; “en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook gaan doen.” As Jesus vandag iemand na jou toe stuur wat hulp nodig het, wat sal jou besluit wees? Sal jy nederig neerkniel voor jou medemens se voete, en hulle was? Of sal jy ’n verskoning soek om dit nie te doen nie?

GEBED

Dankie my Vader vir die voorbeeld wat U vir ons gestel het deur u dissipels se voete te was. Help my om elke dag nederig en leersaam te kan wees in u Koninkryk. Stuur vir my mense op my pad wat ek in liefde en nederigheid kan bedien. Laat ek nie net hulle voete was nie, maar ook hulle hande en hoofde. Help my om nooit  te dink ek is beter as my medemens nie. Gee my krag om elke dag ’n skoon handdoek saam met my te dra.  Dankie dat ons kan leer by U, ons Leermeester.

Amen