Psalm 27:11.Here, leer my U pad, lei my op ‘n gelyk pad vanweë my vyande.
Hoe hanteer ’n mens onreg in die lewe? Dit maak ’n mens kwaad en het tot gevolg dat ’n mens met alles in jou daarteen baklei. Heel dikwels lei dit ons ook ironies genoeg tot gedagtes en dade van meer opregtheid en tot meer vyandskap. Om impulsief teen onreg te baklei is op sig self nie die antwoord nie en het nie God se vrede tot gevolg nie. Die Here wil ons juis help om tot insig te kom in die dieper realiteite wat in die onreg verskuil lê. Daarom die waarde van vandag se teks: “Here, leer my vandag U pad en bewaar my om vanweë onreg die pad vir myself en ander net nog moeiliker te maak.” Hoe lyk die gelyk pad waarop die Here jou vandag wil lei? Wat is die vermoeiende opdraandes en gevaarlike steiltes wat ons van nature kies en wat ons vandag eerder moet vermy? Hoe lyk die gelyk pad wat vrede bring waarop die Here jou vandag wil begelei?
Gebed
Ek wil vandag vir ons Psalm 139 bid. Here, U ondersoek my en U ken my. Van agter en van voor omsluit U my, U plaas U handpalms op my. Om dit vandag te verstaan, is ‘n te groot wonder vir my, dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie. Maar tog wys U my prakties die regte pad om vandag te stap. Deurgrond my Here, sien my onrus raak. Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die beproefde en ewige pad.
AMEN.