Gedagte vir die dag | Woensdag 13 Januarie 2021

1 Korintiërs 15:85. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

1 Korintiërs 4:1. So moet julle ons dan sien: ons is dienaars van Christus en bestuurders aan wie die geheimenisse van God toevertrou is.

Van ’n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees. In 1698 het dr. Robert South, daarin geslaag om ’n hele gemeente aan die slaap te preek. Dit is deesdae seker makliker om aan die slaap te raak terwyl jy na ’n preek op ’n selfoon, of rekenaar kyk, maar dit kan in die kerk ook gebeur.  In dr. South se kerk, was die koning van Engeland boonop met die geleentheid ook in die kerk. Daar word beweer dat dr. South op ’n stadium sy eie preek onderbreek het en gesê het: “Lord Lauderdale word asseblief wakker, u snork so hard dat u die koning sal wakker maak”.

Dit was ’n baie bedagsame predikant, maar ongelukkig kan ons niks meer positief van hom sê nie, om van die gemeente nie eers te praat nie.  ’n Mens kan  maar sê hulle was ’n “slapende gemeente.” Daar is ’n ander storie van ’n predikant wat gedroom het hy preek, en toe hy wakker skrik het hy agtergekom hy preek regtig!

Ons lees van ’n ander gemeente, die eerste gemeente in Jerusalem.  Nadat Paulus sy preek op Pinksterdag gepreek het, lees ons in Handling 2:37 “Is hulle diep in die hart getref,” en het hulle vir Petrus en die apostels gesê: “Wat moet ons doen”? Na die preek is omtrent 3 000 siele by die gemeente bygevoeg. En wanneer daar later na die gemeente verwys word, word woorde gebruik soos blydskap, volharding, gemeenskap, gebede, eenvoudigheid van hart. Handelinge 2:46-47Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”

Ons beweeg in ’n tyd waarin kerke en gemeentes opnuut gedefinieer moet word, veral tydens die Covid-19-pandemie.  Ons predikante praat baie hieroor, en dis eintlik ’n gesprek wat gereeld in die kerkraadvergaderings plaasvind – hoe en op watter manier moet die geloofsgemeenskap, en in besonder ons Stellenberg- gemeenskap, onsself inrig en hoe herdefinieer ons die kerk? Hoe kry die gemeente van  Jesus Christus vandag gestalte – in ’n nuwe tyd, met verandere omstandighede?

Die Duitse Teoloog, Hans Küng, sê dat Jesus hom vereenselwig het met armes en ellendiges. Maar ook met Samaritane, prostitute, tollenaars, melaatses en gewone mense.  Muggeridge skryf van ’n gesprek tussen ’n Russiese pa en sy seun by Lenin se graf op die Rooiplein in Moskou: “Pa, wat is dit?” het die seun gevra. “Dit is Lenon se graf my seun,” antwoord die pa.   “Wat is Lenin?” vra hy, en die pa antwoord: “Lenin is ons graf my seun.”

Vir die Christen is Jesus se oop graf sy lewe. Dieselfde Hans Küng, verklaar in sy boek, “Hoe om ’n Christen te wees”, hierdie boek is nie geskryf  omdat die skrywer dink dat hy ’n “goeie” Christen is nie, maar omdat hy dink dat om ’n Christen te wees, ’n goeie ding is.

Laat dit die fokus van ons geloofslewe en ons werk in hierdie jaar wees. Dat ons “wakker” Christene, “wakker” gelowiges sal wees wat die werk en die wêreld verander. Wat ’n nuwe gestalte aan ’n geloofsgemeenskap gee.

Gebed:

Here gee vir ons die genade om nie slaperig en aan die slaap te wees nie, maar elkeen ons rol in die geloofsgemeenskap en in die markplein te vind. Dankie vir die genade en vir die gestalte van U gees in elkeen se lewe, om daarop en op ’n nuwe manier gestalte te gee. Amen.