Ons is tans in die Groot Lydensweek van Jesus Christus. Dit is enkele dae nadat ons Palmsondag gevier het, toe Jesus triomfantlik Jerusalem op die rug van ’n donkie binnegery het. Maar dit is ook enkele dae voor Goeie Vrydag, waar ons weet Jesus die hoogste prys betaal het ter wille van elkeen van ons.
In die gees stap ons die paadjie saam met Jesus na die kruis, en probeer dink aan sy bittere lydensweg en hoe dit elkeen van ons vandag steeds raak.
Ons lees vandag kortliks saam uit Matteus 26:1 en dan ook vers 6 & 7. “Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het, het Hy vir Sy dissipels gesê: “Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word. Dan ook in vers 6: “Terwyl Jesus in Betanië, by Simon die melaatse aan tafel was, het ‘n vrou by Jesus gekom met ‘n albaste fles met baie kosbare olie en dit op Sy kop uitgegiet het. Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig.. “Waarom so verkwisting”, het hulle gevra. “‘n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en aan die armes gegee het.”
Ons is nie seker wat presies die Woensdagaand voor die Paasfees in Jerusalem gebeur het nie. Jesus was waarskynlik in Betanië, waar Hy saam met Sy dissipels vertoef het . . . waarskynlik ’n bietjie gerus het, en kon beleef hoe ’n vrou ’n albaste fles met baie kosbare reukolie op sy kop uitgegiet het. Daar was ’n enorme reaksie daardie aand in die huis in Betanië. Baie was verbaas, ander was teleurgesteld, ander was onseker en angsbevange oor dit wat Jesus toe aangekondig het. Ander het hulle weer erg vir die vrou vererg wat die reukolie op Jesus se kop uitgegiet het.
As ons dit sou kon toepas op vandag . . . wat is ons reaksie op die aankondiging van Jesus se kruisiging? Hoe raak dit ons, en wat wil ons teruggee? Is ons dalk soos die dissipels wat terughoudend en skepties is, of is ons dankbaar soos Maria wat die kosbare reukolie uitgiet? Wat gee ons terug? Wat kom sit ons op die offertafel, in reaksie op Jesus se kruisiging?
Mag ons in ons reis hierdie week, onsself met hierdie vraag besig hou.
Here, dankie vir die waagmoed en die braafheid waarmee U, U laaste tree geloop het met u kruisiging. Help ons om ook ons beste aan U te gee uit dankbaarheid vir wat U vir ons gedoen het.
Amen.