Gedagte vir die dag | Woensdag 11 Augustus 2021

Deur: Ds. Hanno Ackerman

In ’n artikel van Die Burger gedateer 29 Julie 2021 word die dataopname gedoen tussen Mei en Junie 2021 van die onderneming, Afrobarometer, vertoon.   Daarin is bevind dat die helfte van Suid-Afrika se bevolking glo dat gebed meer doeltreffend as die Covid-19-entstof is.  Dié artikel het my laat wonder hoe ons oor gebed dink. Wat is die rol van gebed, wat beteken dit en hoe moet dit lyk in hierdie tye van onsekerheid?  As kind het ek geglo gebed is die tyd wat jy gebruik om met Jesus te praat, dit wil sê dat ek elke aand voor ek gaan slaap het, het ek  my eie gebed opgesê. Ons het natuurlik as familie die ritueel van gebed voor ete ook gehandhaaf.

Soos ek ouer geword het, het gebed vir my meer as net ’n ritueel geword. Ek dink die meeste tyd wat ek in gebed spandeer het was as student terwyl ek in my motor was op pad na die universiteit toe.  In hierdie week wil ek graag saam met jou oor gebed nadink asook die betekenis daarvan en ook ondersoek of ons nie anders oor gebed moet begin dink nie.

Jesus het in die bergrede vir die mense die volgende gesê oor gebed:

Matteus 6:5-7. 5“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 6Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. 7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”

Christus se verstaan van gebed was nie aan die ritueel daaraan verbonde gekoppel nie. Dit was ook nie ’n stortvloed van woorde nie, dit was meer as dit. Die bekende Anglikaanse Priester en skrywer Richard Rohr het geskryf: “Prayer is sitting in silence until it silences us, choosing gratitute until we ourselves are grateful and praising God until we ourselves are an act of praise.”

Gebed was vir Jesus woorde wat iets MET jou moet doen en nie noodwendig iets VIR jou moet doen nie.  Ek dink ons sien gebed dikwels as ’n rympie vol versoeke. Christus sê vir ons dat gebed verandering in ons moet bewerkstellig.

Kom ons bid saam:

Here, ons dank U vir ’n nuwe dag, met nuwe uitdagings en gebeure. Ons bid Here dat die woorde wat ons gebruik in ons gebede ons sal skuif en sal verander sodat dit iets aan ons doen eerder as om te verwag dat hierdie woorde vir ons iets sal gee. Ons bid Here, mag ons die verandering wees wat in hierdie tyd nodig is hier en nou.

Amen.