Vandag is Woensdag 10 Mei en welkom by hierdie week se reis waar ons saam reflekteer oor wat dit beteken om vanuit die opstanding te leef en hoe ons be[GEES]terd kan leef. Om be[GEES]terd te leef is om ’n lewe te leef van entoesiasme. Dit is om ’n gloedvolle lewe te leef, om in vervoering te leef of om ’n besielde lewe te ervaar. Dis geesdrif en besieling wat ons aanspoor om as begeesterdes die lewe te leef.
Ter refleksie oor die nuwe kerklike seisoen van Pinkstertyd wat voorlê is dit goed om ’n bietjie na te dink oor die ontstaan van dit. Vir die Kerk is Pinkstersondag ’n belangrike feesdag omrede dit die kerk se verjaarsdagviering is. Dit is die kerk se ontstaansdag. Paulus herinner ons in Efesiers 4:4-6 dat daar net één liggaam en net één Gees is, soos daar net één hoop is … net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal. Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Hierdie laat my dink aan die Afrikaanse woord “brandpunt”. Aanvanklik was dit gebruik as ‘n sinoniem vir vuurherd. ‘n Gesin het winteraande voor “die brandpunt” vergader om daar saam met mekaar warmte te vind. ’n Brandpunt is dus ’n sentrale kuierplek.
Daar is by God net een woonplek. En in daardie woning is daar – metafories gesproke – net een “vuurherd”, waar daar vir elkeen plek gemaak word. By hierdie vuurherd kan jy inskuif, ongeag jou agtergrond en geskiedenis. Almal is welkom. Mag ons as kerk & huis gereelde ruimtes van ontmoetings skep waar ons mekaar kan herinner van die Gees van God wat in ons leef. Mag dit ruimtes wees van gasvryheid en ontdekking terwyl ons somtyds brandpunt-temas bespreek. MAAR bowenal mag ons vashou aan mekaar, omrede God ons saamsnoer en bind tot verbondendheid met Hom.
Mag jy vandag beleef dat daar vir jou by God se brandpunt ‘n plek is.
Gebed
Here, dankie vir ons saamwees & familiewees. Ons bid vir die kerk van vandag met die wete dat U die Een is wat dit instandhou en versorg.
Amen.