Gedagte vir die dag | Woensdag 10 Maart 2021

Psalm 102:1: “Gebed van ‘n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte uitstort voor die Here. (Ek doen dit ook teen die agtergrond van die lydingstyd waarin ons is). Here, luister tog na my gebed, hoor tog my geroep om hulp! Moet U tog nie van my afsydig hou nou dat ek in die nood is nie. Luister tog na my wanneer ek U aanroep, verhoor tog gou my gebed, want vir my verdwyn die dae soos rook. My liggaam brand soos vuur, ek is verskroei en uitgedroog soos gras, ek het alle eetlus verloor. Ek het net vel en been geword van al die pyn. Ek voel so verlate soos ‘n pelikaan in ‘n woestyn, soos ‘n uil tussen murasies. As ek wakker word,voel ek soos ‘n eensame voël op ‘n huis se dak.”

Ek het die afgelope Sondag hierdie teksvers aangehaal en om eerlik te wees het ek dit nie eintlik goed geken nie. Tog het dit my laat dink aan die analogie van ’n treinreis, wat nie in vandag se tyd meer so baie gery word nie.   Die lewe kan met ’n treinreis vergelyk word, maar ’n treinreis met ’n verskil omdat jy het geen seggenskap het oor die vertrek-, die oorklim-, of aankomstyd nie.

Wanneer jy iemand verloor vir wie jy baie lief is, word die tweesaamheid wat sin aan jou lewe gegee het, ’n pynlike eensaamheid. Wanneer jy op een of ander manier verlies beleef kan selfs ’n klein gebeurtenis die kameel se spreekwoordelike rug breek. Dis baie maklik om te sê dat die verlies, of die afwesigheid wat ons in die lewe beleef, nie vir die gelowige die eindstasie moet wees nie. Maar deur die genade wat ons ontvang moet ons dit juis as ’n “oorklimtydperk” sien.

Want dit is juis die geloof in Jesus Christus wat aan die sinvolheid van ons reis, gestalte gee. Eensaamheid beteken dus dat ek en jy verstaan dat ons in ’n bepaalde koers reis. Ek en jy moet verander want die omstandighede gaan nie verander nie. Ons moet genade ontvang om te midde van ons seer en pyn en die  afwesigheid van ‘n geliefde, te verander en weer nuut te kyk.

Om jou geloof in binne die uitgemete tyd en die beplande roete van jou lewe sinvol uit te leef, dit is waaroor dit gaan. Om dit te doen, moet ons die roete en die beplanner  van ons roete en die uitmeting van die tyd wat dit neem om die roete af te lê, ten volle vertrou.  Vertrou dat Hy met ons op weg is, dat Hy daar is, al voel dit nie of ons wel na ’n bepaalde bestemming op pad is nie. Mag ek en jy elke keer die genade kry om perspektief te behou. Mag ons daar wees vir ander wat swaarkry, mag ons die genade vind om na hulle uit te reik.

Gebed:

Here dankie dat U die beplanner van ons roete is, dat U met ons op pad is, met ons op weg is. Al is ons nie altyd seker waar presies die eindbestemming is nie. Gee vir ons die genade om aan U vas te hou.

Amen.