1 Petrus 4:10. God het vir elkeen van julle besondere bekwaamhede gegee. Julle moet dit gebruik om mekaar te help, want dan werk julle reg met die verskeie soorte vermoëns wat God julle gegee het.
1 Korintiërs 1:1-2. Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die naam van ons Here Jesus Christus om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Is Christus dan in stukke verdeel?
Wanneer ek in dié tyd met mense gesels besef ek dat baie mense afgesonder is tot kontak met ’n klein familiekring, dikwels beweeg hulle ook net binne hulle eie gesinskringe. Bloot oor die vlak van die pandemie waarbinne ons nou moet leef. Mense wil nie te veel blootgestel word aan verskillende mense nie.
’n Tyd gelede het ek die verhaal van ’n koning wat op sy sterfbed gelê het, gelees. Hy was die pa van die eerste koning van die latere Hongarye. Rondom sy bed het sy vyf seuns gestaan. Hulle was van plan om na hul pa se afsterwe te vertrek en dan elkeen sy eie “koninkryk” te begin. Die ou koning het gesê: “Ek weet nie wie my moet opvolg as koning nie, daarom het ek besluit om te kyk wie van julle die sterkste is. Hy het ’n bondel stokke aan sy oudste seun gegee en gevra dat hy dit in die middel moet deurbreek. Hy kon dit egter nie regkry nie en daarna kon nie een van die ander vier ook daarin slaag nie.
Hierna het die koning weer die bondel stokke by hulle geneem, dit van mekaar losgemaak en daarna die dun stokkies een vir een middeldeur gebreek. Toe het hy gesê: “Onthou altyd my seuns, saam kan niemand julle breek nie, maar as julle verdeeld is, beteken dit julle almal se einde.”
Miskien is dit ’n legende, maar die boodskap is duidelik vir alle mense van alle tye. Die koshuis waarin ek op Stellenbosch was, se naam was Eendrag, en die leuse: Eendrag maak mag.
Eensgesindheid is deurslagewend vir die toekoms van elke huisgesin/familie, of selfs werkomgewing, maar ook dan spesifiek ook in ’n land, waar daar verdeeldheid is. Waar onmin gesaai word in ’n nasie of volk, gesin of werksomgewing word ’n vinnige einde verseker. Soms kry ek die indruk dat mense baie negatief oor ons land en kerkomgewing praat. Paulus moes reeds in die vroeë kerk die Korinitiërs aanspreek, “ek doen ’n beroep op julle almal broers, namens ons Here Jesus Christus om eengesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Is Christus dan in stukke verdeel?”
Ons as gelowiges in hierdie land, ook in die besonder in ons kerkomgewing, het mekaar bitter nodig. Veral wanneer ons kyk na hoe mense in die openbaar van mekaar verskil en teenoor mekaar optree.
Iemand het op ’n keer aan pastoor Wurmbrand gevra hoe hy die Protestante en Katolieke in die konsentrasiekampe van Duitsland met mekaar laat saamwerk het. Wurmbrand se antwoord was kort en op die man af: “In so ’n krisistyd, vra jy nie vir iemand oor hul kerkverband uit nie, maar dank jy die Here vir elkeen wat sê dat hy wel ’n gelowige is en dat hy ’n Christen is.”
Kom ons kyk eerder waaroor ons met mekaar kan saamstem, as om mekaar die hare in te vlieg, of mekaar sleg te sê wanneer ons diep van mekaar verskil. Dit wat ons met mekaar in gemeen het, is baie meer as dit waaroor ons van mekaar verskil.
Mag eengesindheid ’n karaktertrek, van elkeen wees. Want 1 Petrus 4 sê: “God het ons verskeie soorte vermoëns gegee.”
Gebed
Here gee ons die genade om eerder ooreenkomste te soek in plaas van om verskille op die spits te dryf.
Amen.