Gedagte vir die dag | Woensdag 1 September 2021

Psalm 121:1-2. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? 2My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Aanvanklik was Psalm 121 bedoel vir mense wat op reis was.  Ons lees dit in die opskrif wat aandui dat hierdie ’n pelgrimslied is. ’n Pelgrimslied vir die Israeliete oppad na Jerusalem.  Die pad wat hulle moes loop was moeilik en gevaarlik.  Die grootste gedeelte van die pad was maar woestyn- en bergagtig.  Daar was ’n hele klomp gevare waarvan hulle kennis moes neem op hierdie pelgrimstog na Jerusalem toe.  Die berge was ondermeer skuilplekke vir rowers en bendes.  Inderdaad ’n gevaarlike pad. Dit is dan dat die digter opkyk en sy hulp van die Here afbid vir hierdie gevaarlike reis wat voor hom lê.

Die Psalm se begin, word soos ’n vraag gestel.  Waarvandaan sal daar vir my hulp kom?  ’n Baie aktuele vraag vir vandag ook – is dit nie?  My hulp kom van die Here af.  Hoekom?  Want Hy is die Skepper God.  Hy is die almagtige. Die een wat beskerm en bewaar.

Ons wat hierdie Psalm vandag lees weet dat ons ook pelgrims op reis deur die lewe is. Die gevare en die bedreigings lyk anders as die waarvan die Psalm praat.  Ons beleef ook uitdagings en probleme.  Ons pelgrimsreis deur die lewe is ook nie aldag maklik nie.  Daarom is Psalm 121 ook vir my en jou geskryf.  Ook vir ’n tyd soos hierdie.

God se belofte van hulp, bewaring en beskerming kom nie minder as vyf keer hier voor nie.  “Hy sal jou beskerm, Hy sal jou bewaar.  By Hom kry jy jou hulp.  Hy slaap nie, hy sluimer nie in nie.”  Hy rig sy oë altyd op ons.

Daarom kan jy die pelgrimsreis van die lewe met gerustheid aanpak.  Jou Here reis saam met jou.  Wanneer daar uitdagings oor jou lewenspad kom, is Hy by jou om jou daardeur te lei. Psalm 121 wil ons leer dat swaarkry, gevare, siektes, hartseer, moedeloosheid en angs ongelukkig altyd deel van ons lewensreis as pelgrims sal wees, maar dat ons mekaar op hierdie lewenspad moet herinner aan ons Here wat saam met ons die pad loop!

GEBED

Almagtige God, ek bevestig met dankbaarheid dat my hulp van U af kom, Here. Die Here wat hemel en aarde gemaak het.

AMEN