Jesaja 55:6. Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.
GEDAGTE
Het jy al na die Here gesoek sonder om Hom te vind. Dit kan mos nie gebeur nie. Soms vind jy Hom nie omrede jy nie gereed is vir wat Hy aan jou wil openbaar nie. Soms is jy nie ernstig genoeg in jou soeke nie. Net so het die volk van God ook vir Hom gesoek.
Hierdie oproep van Jesaja kom na die volk terwyl hulle in ballingskap was. Die troosboodskap kom aan die einde van ‘n woeste en traumatiese tyd in die volk se geskiedenis. Hulle is in ballingskap en uit Jerusalem ontwortel. Jesaja se boodskap is dat God se teenwoordigheid nou vir hulle bevryding en troos sal bring.
’n Mens kan net dink wat hierdie woorde vir die pessimistiese ballinge beteken het. Dit was goeie nuus, uitnodigend en troosvol. Vir ’n gehoor wat gewoond was aan swaarkry en ballingskap word hier meer as die basiese aangebied – ’n uitnodiging om God te vind. Hy het nie van hulle vergeet nie. Die woorde is woorde van verlossing en seën, asook die bevestiging van God se trou (verbond).
Hoe onaangenaam of moeilik jou situasie dalk ook mag wees, jy het altyd toegang tot God. Dit maak nie saak wat jou uitdaging is nie. God los jou nooit alleen nie. Wees stil en weet, Hy is die Heer en Hy is by jou.
GEBED
Hemelse God en Vader. Ek kry op die stadium baie swaar. Die lewe is vir my uitdagend. Wees my asseblief naby.
Amen