Gedagte vir die dag | Woensdag 1 Desember 2021

Die jaar is nou regtig besig om einde se kant toe te staan. Die afgelope Sondag het ons die Kerssangdiens gehad, en die lied “Stille Nag” het by my vasgesteek. Ek wil dit vandag as teksvers gebruik:

Liedboek 348:

Stille nag, heilige nag

Jesus kind, lank verwag

lig uit lig, uit die Vader se ryk

word uit liefde aan mense gelyk

Loof die hemelse Kind!

Wanneer ’n mens na die lied luister, dink ek roep dit by ons almal herinneringe op. Ek deel graag myne met julle. Op Ou Kersaand, het al die werkers van al die plase bymekaar gekom en hulle kon so mooi in stemme saam sing. Dan het hulle voor my pa-hulle se kamer op die plaashuis kom sing en hierdie hierdie ongelooflike mooi lied in stemme gesing. Ek dink ook aan Kerssangdienste in Calvinia in die ou kerk, waar ek groot geword het.

Izak de Villiers het ’n boek daaroor geskryf, en dan kom mens agter hierdie lied was eintlik ‘n omstrede lied, en toe hulle uiteindelik besluit het om dit in die gesange boek te sit, het almal na die lied verwys as iets anders, of Rooms, of ongerefermeerd  en dit behoort geskrap te word, en uiteindelik het die ou gesange boek dit met een stem gehaal.

Maar oor die geskiedenis van Stille Nag is daar baie verhale vertel. Op ’n Kersaand in 1818, het twee virende, Joseg Mohr, (priester van Obersforf in Tirool) en die orrelis Frand Grűber, hulle vir die midderrnagdiens voorberei, toe hulle agterkom dat muise het die binnewerke van die orrel stukkend geknaag!  Die diens sou dus sonder musiek moes voortgaan.  Mense vertel dat Grűber van teleurstelling sommer sy kitaar gegryp het en ’n wysie begin tokkel het, ’n slaapliedjie, om hul gemoedere te kalmeer.  Skielik het Mohr opgespring en soos Archimedes van oudts uitgeroep: Ek het dit! Ek het dit!  In blykbaar ’n halfuur het hy die woorde van Stille Nag geskryf.  Die middernag diens, met kitaar en al het voortgeggaan, en die gemeente het Stille Nag gesing dat dit dreun. Ons kan sê dat kersfees se kenwysie gebore is.

’n Ander weergawe lui dat Grűber en Mohr die gemeente wou verras met iets nuut, koppe bymekaargesit het, en op die ou end met Stille Nag navore gekom het. Dokter Gaeie Cillie gee in die boek: “Waar kom ons Afrikaanse gesange vandaan?” ’n baie minder romantiese weergawe hiervan. ’n Groepie mense was in ’n dorpie Arendsdorf bymekaar om voor te berei en reëlings te tref vir die Kersversierings.  Joseg Mohr het tydens die vergadering in die buitelig gaan sit, en toe hy terug kom het hy ’n papiertjie in sy hand gehad, met die woorde “Stille Nacht” daarop. Dit was ’n Kersgeskenk aan Frans Grűber. Later die aand was hy in sy kamer toe hy skielik hoor hoe mense sy gedig sing. Die pragtige melodie het hom aangegryp en hy het hom na die lokaal gehaas waar Grűber en sy vriende byeen was. “Ja, het jou gedig nie ’n mooi lied geword nie?” het Grűber blykbaar gesê. “‘n Mens kan nie anders as om dit te sing nie. Die klanke het spontaan na my toe gekom, en terwyl jy weg was, het ek dit vir my vriendinne, die Stracht Susters gespeel, en ons het dit saam afgerond.”

Die Tiroolse sanggroep het die lied verder in Oostenryk en Duitsland bekend gemaak. “Lig uit Lig, uit die Vader se ryk, word uit liefde aan mense gelyk. Loof die hemelse Kind!”

Gebed:

Here dankie dat woorde, musiek, taal, vir ons dit moontlik maak om hierdie lied in hierdie tyd wêreld wyd te kan sing. Gee dat ons nie by die sentiment sal vashaak nie. Dankie vir mense op wie se skouers ons kan staan en ’n belewing kan hê oor Jesus Christus wat mens geword het. Dankie vir die Gees van Kersfees.

Amen.