Gedagte vir die dag | Vrydag 9 September 2022

Vandag is Vrydag 9 September en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39. Die teks bevat talle beloftes van God vir God se kinders. Hierdie reeks ontgin ‘n paar van hierdie beloftes van God. Hierdie beloftes spreek baie van ons vrese aan en gee vir ons die vrede sodat ons voluit en met waagmoed kan leef.

Die 2de belofte waarna ons kyk vandag is: God laat alles ten goede meewerk (vers 28).

28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 

Partykeer gebeur daar goed in ons lewens waarop ons nie antwoorde het nie en dan voel dit asof die vrae te moeilik raak. En baie keer voel dit dan of God ook nie vir ons die antwoord wil gee nie. Maar, God is by ons. Ons weet dat daar slegte dinge is wat met mense gebeur – maak nie saak of hulle self goed of sleg is nie. Baie keer leef ons in hierdie vrees van slegte situasies en onmoontlike antwoorde, maar God kan elke slegte situasie gebruik om ons te help groei en daarom kan ons weet dat God se belofte, om alles ten goede te laat meewerk, vir elkeen van ons waar is.  Ja, slegte dinge gebeur, maar God gebruik dit ten goede – so gaan Jesus Christus kruis toe ten goede van mense. Onthou: God is agter die skerms aan die werk.

Gebed: Here, dankie vir die wete dat niks my uit u hand kan ruk nie. Amen.