Matteus 28:1-7. Na die Sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk. Skielik was daar ‘n geweldige aardbewing. ‘n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword. Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”
Hoe om op te staan na die pandemie?
Vrees het ’n groot invloed op ons lewens. Ons biologiese samestelling is juis daarop gemik om ons veilig te hou. Dink maar aan die amigdala in die brein, een van die grootste funksies van die amigdala is om ons liggaam se respons op die buitewêreld te aktiveer. Die bekende spreker Trevor Ragan sê dat ’n mens se brein jou liggaam op tye van ongemak, dit wil sê onsekerheid, verandering en uitdaging voorberei. Die enigste probleem is dat ons liggame nie kan onderskei tussen goeie en slegte ongemak nie en ongemak is somtyds juis wat ons nodig het om te groei.
Die vroue by Jesus se graf was reeds gekonfronteer met die ongemak van Jesus se kruisiging. Hulle het terug verlang na ’n stuk bekendheid en het daarom Jesus se graf gaan besoek. Die engel konfronteer hulle binne die ongemak van die leë graf en spreek die woorde: “ Julle moet nie bang wees nie.” By die graf en te midde van die ongemak kom sê die engel vir die vroue dat dit juis binne hierdie ruimte van ongemak is, waar ons weer nuwe lewe en groei beleef.
Tydens die pandemie beleef ons baie ongemak en onsekerheid, somtyds moet ons in die graf staan en deur die ongemak swoeg, want daar is dalk juis nuwe lewe om te ontdek.
God help ons om op te staan in die tye van ongemak en vrees.
Gebed:
Dankie Here dat ons weer vandag bewus kan word van die feit dat die graf leeg is. Dat ons kan weet dat U by ons is in die ongemak en onsekerheid van die lewe. Here ons kom word vandag stil om weer opnuut te besef dat U ons laat groei deur die ongemak, onsekerheid, angs en uitdagings van die pandemie. Ons kan opstaan omdat U opgestaan het. Amen.