Gedagte vir die dag | Vrydag 8 September 2023

Lukas 12:27.

VERTROUE 

Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog hier is en môre in die vuur gegooi word, so mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges!

In hierdie maand is daar soveel mense wat ry om na die blommeprag van die lente seisoen te gaan kyk. Dit oorweldig jou om skielik af te kom op ‘n  landskap wat van blomme oortrek is en waarvan die kleur van ver af sigbaar is.  Dit is egter eers wanneer jy tussen die blomme gaan sit en elkeen in eie reg van nader beskou dat die verskynsel werklik vir jou oopgaan. Van nader beskou is die die detail van elke blom op sigself ‘n wonder. Vanuit hierdie perspektief lyk God se skepping ook dan skielik anders. Toe Jesus die woorde van die teks gespreek het, het hy die mense van sy dorp Kapernaum teen ‘n  heuwel op gevat en hulle as’t ware tussen die veldlelies laat sit. Hier tussen die blomme het hulle afgekyk op hulle dorp, roetines, uitdagings, werksomstandighede en skielik met Jesus se woorde ‘n ander perspektief daarop gekry. Hulle het diep bewus geword van die Here se sorg vir elke geringe mens wat op sig self ‘n skepping van God is. Tussen die massas sien God my raak! Hoe raak die ervaring van hierdie teks en gedagte jou waar jy oor jou lewe uitkyk en die blomme besig is om rondom jou te bot?

Gebed

Here, ek weet dat U liefde is, daarom is die liefde vir my die belangrikste in my lewe. Maar, Here, dit is vir ons moeilik om nie te vrees nie. Ek dra vandag in my soveel bekommernisse oor my werk, oor my kinders, oor my ouers, oor myself. Ek is bekommerd oor wat op my wag wat ek nie kan sien nie. Ek vrees die toekoms. Dankie dat U my vandag uit die ritmes van my dag lig om as’t ware tussen die veldlelies te sit en te ontdek hoe kosbaar my lewe vir U is. En daarmee saam ook oorweldig te kan word van die verskeidenheid mense om my vir wie U ook sorg.

Amen.