Rut 1:20-21 20 Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ‘n ramp oor my gebring.”
So Naomi besluit toe om terug te gaan na haar eie land, haar eie plek. Sy het steeds geen heenkome nie, maar dalk staan sy in Bethlehem ‘n beter kans. Ten minste treur sy nie in ‘n vreemde kultuur met vreemde gewoontes nie. Naomi is bitter. Wanhopig, hartseer, dalk selfs woedend.
Naomi is oortuig dat God teen haar gedraai het. God kan vir mense sorg en voorsien, maar oor haar het hy ‘n ramp en ellende gebring. Maar Naomi is nie soos Job, wat wil weet hoekom hierdie goed met haar gebeur het nie. Sy is ook nie soos die Psalmdigter, wat kla en huil nie. Ons lees nie dat sy vir God gevra het om haar omstandighede te verander nie. Sy is net bitter, so gebroke, dat sy verby die punt van gebed is.
Was jy al op moedverloor se vlakte soos Naomi? Was jy ook eens op ’n tyd vol, maar is nou leeg omdat dit vir jou voel dat selfs die Here teen jou gedraai het? Was jy ook al so alleen en moedeloos dat jy soos Naomi jou lot wil bekla. Dalk sit jy ook op die oomblik in ’n noodsituasie, en dit voel vir jou jy gaan dit nie deurleef nie. Is die uitdagings van die lewe vir jou net een te veel? Dalk is dit ’n siekte waarmee jy baklei, en jy vrees dat jy die stryd gaan verloor. Of is dit ’n verhoudingskrisis waarin jy vasgevang is? Jou finansiële posisie is dalk benard en jy sien geen uitkoms nie.
Wat maak ’n mens as jy in ’n krisis beland? Die maklikste is natuurlik om by almal wat wil hoor en nie wil hoor nie, daaroor te kla. Of te sug en te sê dit lyk vir jou God stel nie eintlik meer in jou nood belang nie.
Doen dan eerder wat Naomi gedoen het. Sy het geweier op haar bitter situasie te aanvaar. Sy weet dat haar situasie nie strook met wat sy van die Here weet nie, dat die Here sekerlik vir haar die uitkoms sal bring. Sy het opgestaan en vorentoe beweeg. Sy het nie in sak en as bly sit nie. Kyk die lewe vierkantig in die oë en stap daardeur met God se genade. Hierdie hartseer en moeilike tyd sal ook verby gaan.
GEBED
Here help my asseblief in my huidige situasie. Ek voel ek kan nie meer nie. Trek my asseblief op en gee my die moed en krag om vorentoe te gaan.
Amen