Gedagte vir die dag | Vrydag 7 Mei 2021

Psalm 119:35-37. “Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. U verordeninge, laat die my na aan my hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie. Weerhou my van ’n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U my aanwys.”

Hoe gaan jy die dag wat voorlê aanpak? Daar is waarskynlik ’n klomp dinge wat jy beplan om te doen en tussen dit alles deur sal onbeplande sake ook jou aandag deur die loop van die dag verg. Of dit vandag ’n goeie,of slegte dag gaan wees sal bepaal word deur hoe suksesvol ’n mens al die take afgehandel kry. Psalm 119 bied vandag ’n ander perspektief. Here, gee my vandag ’n fyn aanvoeling hoe om die take wat op my wag aan te pak sodat ek ook vreugde in die dag sal vind.

Gebed

Here, die dag wat op my wag lê dikwels soos ’n berg voor my omdat ek dit net as ’n klomp take wat afgehandel moet word, beoordeel. En wanneer ek in die sloergang van take vasval sien ek nie die waarde wat die dag vir my kan inhou nie. Help my daarom vandag om vreugde in die dag wat op my wag, te vind. Weerhou my van ’n nuttelose lewe en Here gee my ’n diep waardering en insig in wat en hoe ek die dag moet aanpak.

Amen.