Gedagte vir die dag | Vrydag 7 Julie 2023

Numeri 27:16-17.  “Dan moet U, Here, God wat aan alle mense die lewe gee, iemand oor hierdie volk aanstel 17wat vir hulle ‘n leier en aanvoerder kan wees sodat die volk van die Here nie soos skape sonder wagter sal wees nie.”

In die refleksies van vroeër die week het ons gesien dat God soos ’n herder is wat ons lei en red en dat Jesus die goeie herder is wat sy lewe opoffer. Hier in Numeri sien ons dat God ’n herder vir sy volk aanstel, om hulle te lei. Wat waar is by God, word waar vir God se mense. God het vir Israel uit Egipte gelei soos ’n herder sy skape lei en toe leiers aangestel om saam met hom herders vir die volk te wees.

Heel aan die begin van die verhaal van die Bybel lees ons dat God die mens in sy beeld geskep het. Ons is God se verteenwoordigers. Wanneer God in ons lewens inkom en ons lewens verander, behoort ons dan ook iets van dít wat ons by God beleef het, uitleef. Natuurlik kan ons nooit God self wees nie, maar slegs ’n beeld wat God verteenwoordig. Soos iemand gesê het, ons is nie die maan haarself nie, maar die vinger wat wys na die maan. Waar Israel keer op keer droogmaak, is wanneer hulle die vinger met die maan verwar.

Mag ons, in die uitleef van ons roeping, aanhou om ’n vinger te wees wat na God wys. Mag ons, as sy herders, nie dink ons is dié Herder nie, maar mag ons iets verteenwoordig van God ons Herder.

Gebed

Here, U nooi ons in en maak ons deel van dit waarmee U in die wêreld besig is. U is die herder, wat ons aanstel as herders om in vennootskap met U te staan, om ’n verteenwoordiger te wees van die ware Herder. Help ons Here, om werklik u beeld te wees. Om so te leef dat ander sal sien dat ons nie na onsself wys nie, maar na U.

Amen.