Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam met jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal uit jou kinderdae onthou, of jy sal hulle onthou hoe jy dit vir jou kinders voorgelees het.
Lees 1 Samuel 17: Die verhaal van Dawid
Teks: 1 Samuel 17: 45
Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.
GEDAGTE
Dawid met sy slinger,
vir niemand was hy bang.
Hy bid tot God, sy Vader,
en sing ’n lofgesang.
Al was hy maar jonk en
al was hy klein gebou,
het Dawid reeds van kleins af
alleen net op God vertrou.
Hy neem nie eers ’n swaard nie
om teen die reus te veg –
hy gaan alleen in God se krag
met die slinger in sy hand.
Hy swaai die slinger om en om
en om en om en om.
Die klippie tref die reus se kop
en die reus val op sy neus!
Hierdie verhaal vertel van die stryd wat Dawid gevoer het vir God se eer. En in hierdie stryd staan verskillende dinge teen mekaar: Goliat teen Dawid. Die grote teen die kleintjie. Die selfvertroue van Goliat teenoor die Godsvertroue van Dawid. Saul is bevrees in die magsvertoon van Goliat, Dawid is eerder verontwaardig dat iemand dit kan waag om God so te bespot.
En wanneer ons dit raaksien, begin die verhaal vir ons meer word as net ‘n mooi storie. Dit herinner ons nou aan gebeure wat ons ook daagliks mee te make het. Want ook in ons dae is daar magte of dinge wat teen die Here en Sy koninkryk staan. Maar ons het ‘n almagtige God wat reeds hierdie magte oorwin het. Die Golliat in ons lewe is reeds verslaan. Ons kan in oorwinning lewe.
GEBED
U is my krag en my beskerming.
By U kan ek skuil in my nood.
U dra my, U versterk my,
U troos my, U omhels my.
U liefde is groot,
dankie, my Heer.
Amen