Gedagte vir die dag | Vrydag 6 Mei 2022

Handelinge 1:8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

 Wat beteken kerkwees vir jou? Daar’s mense vir wie kerkwees beteken dat jy jou kinders moet laat doop en elke drie maande nagmaal moet vier. Vir ander mense gaan kerkwees eintlik net oor die preek/boodskap wat hulle Sondae hoor. Vir ander weer is die groot saak van kerkwees die onderlinge liefde en of die mense van die kerk vir mekaar omgee.

En dan is daar mense vir wie kerkwees ’n saak van allerhande beskouings en sienings is. As hulle oor die kerk praat, is dit altyd in dié trant: – “Wat sê die kerk van hierdie saak?  Wat is die kerk se standpunt oor daardie saak?“ Hulle is altyd besig om oor “kwessies” in die kerk of in die Bybel te praat.

Alles wat genoem is, is inderdaad belángrike fasette, van kerkwees: – die sakramente (doop en nagmaal); – die Woordverkondiging; – die gemeenskap van die heiliges (die onderlinge liefde); – die belydenis en die teologie.

Maar weet u watter faset van kerkwees het die Here Jesus uitgekies om vir oulaas voor sy hemelvaart op sy apostels se harte te druk?  Hulle taak – dat hulle Sy getuies sal wees. Oor die werk wat hulle as kerk moes gaan doen. Jesus Christus vestig ons aandag op hulle taak.

Om te getuig oor Jesus is ons groot taak. Eintlik ons enigste taak. . . getuienis is essensieel. Dis die rede hoekom ons Jesus se dissipels is. Almal kan getuig. Die dissipels was ongeleerde en eenvoudige mense. Die Heilige Gees is aan ons gegee vir ons getuienistaak. (Hand.1:8). Tot watter mate is ek en jy nog besig met hierdie taak?

GEBED

Here U het my ook geroep om te getuig. Mag ek hierdie opdrag met liefde en genade uitvoer. Amen