Gedagte vir die dag | Vrydag 4 Junie 2021

Psalm 23:1-3: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag”.

Dis storietyd!

Ja selfs ’n mooi Psalm, soos die een waaruit ons vandag gelees het, kan ’n mooi storie wees. Die volgende verhaal het ek al baie gehoor en selfs al daaroor gepreek. Ek deel dit graag met julle:

’n Beroemde akteur is eenkeer as eregas na ’n dinee by ’n aftreeoord genooi. Na die ete was daar verskillende lofbetuigings oor die akteur se roemryke loopbaan, en ten slotte is hy gevra om iets voor te dra. Hy vra toe of daar ’n spesiale versoek is.

Die mense was maar skaam, en ook nie so bekend met sy repertoire nie. Toe staan ’n ou dominee op: “Sal u nie vir ons Psalm 23 voordra nie?” Die akteur was effens uit die veld geslaan – want hy was eintlik bekend vir sy vertolking van Shakespeare – “met plesier,” antwoord hy toe sjarmant. “Ek dink ek ken nog die woorde.”

Toe hy met sy pragtige stem en suiwer intonasie die Psalm voordra, het die gehoor aan sy lippe gehang. Nog nooit het die klanke van die pragtige bekende Psalm so mooi op hul ore geval nie. Toe hy klaar was, het ’n spontane applous plaasgevind. “Baie dankie, baie dankie”, het hy gesê. Die akteur was amper aangedaan met sy poging. Spontaan sê hy toe: “Nou wil ek graag ’n guns vra. Sal die persoon wat die Psalm versoek het, nie dit ook vir ons voordra nie?”

“Ek?” vra die bejaarde Godsman – “ek weet niks van die voordragkuns nie, en my stem is al taamlik treurig. Maar as u dit as ’n guns vra, kan ek dit nie weier nie.” Die akteur beduie hy moet na vore kom, maar die ou man glimlag: “Toemaar, ek staan sommer hier by my sitplek.”

Toe begin hy met sy ietwat krakerige stem voordra.  Aan die einde van die Psalm was daar geen applous nie, maar die hele gehoor het met geboë hoofde gesit, en min oë was droog. “Sien julle die verskil?” vra die akteur bewoë. “Ek het julle oë en ore bereik, maar hierdie man het julle harte geraak. Want sien, ek ken Dawid se Psalm, maar hy ken die Herder.”

Gebed

Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Dankie my Herder. Amen.