Gedagte vir die dag | Vrydag 4 Februarie 2022

Romeine 12:9b: “Verafsku wat sleg is, en hou vas aan wat goed is”

Gedagte: Die stryd tussen goed en sleg. . . tussen goed en kwaad, is seker een van die mees algemene uitdagings waarmee elke mens op aarde, maar veral ook gelowige mense, daagliks sukkel en worstel. Enkele ander vertalings werp ook goeie lig op hierdie teksvers: die direkte vertaling sê “julle moet die kwaad verafsku en vashou aan die goeie.” Die lewende vertaling vertaal dit as volg: “haat alles wat verkeerd is, kies kant vir dit wat goed is.”

Ons het die afgelope paar weke baie geseënde kampe vir ’n verskeidenheid kinders aangebied by Llandudno op die Apostel Battery kampterrein. Een van die aktiwiteite was toutrek op die strand!  Dit het in ’n groot stryd tussen twee groepe ontaard. Elkeen het gebeur na sy kant toe, om uiteindelik die oorwinning te behaal oor die ander een.  Die tou het uiteindelik gebreek tydens die intense spanning en stryd, met die gevolg dat die twee groepe lekker in die sand beland het!

Is dit nie maar hoe die lewe ook is nie? ’n Voortdurende stryd tussen reg en verkeerd, tussen sleg en goed.  Ons is midde in dit, elke dag moet bepaalde keuses gemaak word, veral waar ons voor sekere versoekings en uitdagings gestel word.  Baie verwys ook daarna as die etiese stryd, met etiek as die leer oor die regte verstaan oor wat reg en verkeerd is, wat goed en kwaad is met die gevolglike aanmoediging om altyd die goeie te kies.  Maar wat is goed,  en wat is sleg?   As ons by “sleg” mag begin, kwaad of verkeerd, glo ek dit is daardie situasies wat nie voldoen aan enige goeie standaard wat vir mense goed en aanvaarbaar is nie.  Dit wat afbrekend is, en nadelig is vir elkeen wat die keuse uitoefen.  As gelowiges kan ons ook na “sleg” verwys as dit wat teen die standaard van die Woord is, teen die standard van wat ons nuwe lewe in Christus van ons vereis. Ons hoef nie vandag ’n lysie te maak van kwaad en slegte goed nie – elkeen van ons ken dit en word elke dag daarmee gekonfronteer!

Daarenteen, is “goed” ’n aanduiding van dade en gedagtes wat positief en konstruktief is en aan die standaarde wat God aan sy kinders stel, voldoen. Iemand het op ’n stadium gesê die woordjie “good” kom van God se naam af.  Goed wil ’n afbeelding wees van wat God is, sy wil en sy standaard.

Vriende, soos nooit van tevore is ons besig met ’n toutrek kompetisie. Dit wat kwaad en sleg is, word op ’n skinkbord vir ons aangebied en dit word aanvaarbaar gemaak en raak geleidelik deel van ’n kultuur . . . dis hoe dinge nou maar gedoen word!  Daarom die direkte padaanwyser vir ons vandag,as mense wat dit wat sleg is verafsku en vashou aan dit wat goed is.

Mag die Here vir elkeen van ons help om elke dag die “sleg” te identifiseer en dit te vermy, maar ook help om  om te doen wat volgens sy standaard reg en goed is.

Gebed:

Here, lei my op die regte pad, die pad van goed. Amen.