Gedagte vir die dag | Vrydag 30 Julie 2021

Ons is diep in die winter! Ek wil graag na aanleiding van die Olimpiese Spele, waar mense wat die wenpaal, of eindstreep haal, ook nadink oor mense wat ons deur die dood in die Covid-tyd verloor het. Elkeen van ons ken iemand, of ’n familielid wat aan Covid-19 blootgestel is, of oorlede is.

Ek lees uit Spreuke 10:7: “’n Eerlike mens se nagedagtenis kan vir ander ook voordele inhou, waar ’n slegte mens se aansien verdwyn gou.”

Ek dink in dié tyd baie na oor mense wat ons geken het en wat aan Covid-19 oorlede is. As predikant is ’n mens dikwels in situasies betrokke waar jy na die dood van ’n geliefde by die familie sit en luister na wat almal van die oorledene vertel.   Toe onthou ek weer ’n jong dame wat jare gelede aan kanker gesterf het. Sy was in die fleur van haar lewe met ’n sprankelende persoonlikheid, sonnige glimlag, baie talente en ’n sterk akademiese ingesteldheid. Ek onthou die woorde wat sy geskryf het  – die pad wat sy geloop het met kanker en chemo.  Sy het haar herinnneringe oor die lewe, oor pyn, oor eensaamheid, chemo, familie, vriende, afskeid, verlies, en dan ook oor die dood – alles neer geskryf. Onder andere skryf sy: “hoe voel ek oor die dood, ek wat ’n kankerleier is? My siel is rustig, want my verhouding met God is reg. As ek nou sterf, aanvaar ek dit. Tog is ek dankbaar en bly dat ek nog baie dinge kan ervaar en kan doen, maar ek is nie bang om te sterf nie, nie ek nie. Daar wag ’n lewe sonder pyn en leiding op my, maar God het sy tyd en ek sal nie vroeër of later gaan nie.”

In Prediker 3, selfs die dood kan mooi wees, ondanks trane, afskeid, hartseer en verlies aan ’n stem wat ’n mens nooit weer sal hoor nie. Tog vra ’n mens: “Waarom is die lewenswedloop waarvan Paulus skryf soms so gou afgeloop?” In 2Tim4:7: “waarom is die wenstreep vir sommige so naby?”, maar dit kan ook soos ’n cliché klink wanneer ’n mens wil sê die lengte van die wedloop is nie so belangrik nie, maar wel hoé ons hardloop.

Kom ons herinner ons aan wanneer ons deelneem, dat hoé ons deelneem belangrik is.  Ek en jy hardloop elke dag die wedloop, maar ons moet gereed wees vir die wenstreep soos die dame skryf in haar laaste deel: “Dis waarom mense wat bang is om dood te gaan, dadelik iets daaraan doen, vandag nog. Bid nou en maak jou verhouding met die Here reg, dan sal jy die wonderlikste verhouding en kalmte in jou gemoed ervaar. Dis die verplasing na ’n wonderlike lewe sonder pyn en lyding. “Soek eers die koninkryk van God,” sê Matteus so mooi. Kom net terug na hierdie fondament, hierdie basis, om eers ’n verhouding met Hom te hê, dan val die ander dinge maklik in plek. So kan God alles vir my en jou op sy eie tyd mooi maak.

Gebed

Here, help ons om so te bou aan ons nagedagtenis, dat dit met U as fondament begin.