Gedagte vir die dag | Vrydag 3 Desember 2021

Teks: Johannes 1:14: “Die woord het mens geword en onder ons kom woon”

Ons weet Johannes skryf onder andere oor Jesus se koms, en die woord wat mens geword het.  As ’n mens daaroor nadink, en baie van ons het daarmee grootgeword, maar dan besef ’n mens die vreemdheid van God wat mens word, is eintlik bokant ons begrip en verstand soos die lied dit ook sê.

Ek het weer gedink aan die Amerikaanse joernalis, Louis Cassels, wat soort van ’n moderne gelykenis vertel, om ’n onverstaanbare saak verstaanbaar te probeer maak. Hy vertel van ’n gelowige vrou wat op Oukersaand kerk toe wou gaan, soos haar gewoonte nog altyd was. Maar soos elke jaar, met ander kerkbyeenkomste wou haar man nie saamgaan nie, nie eers op hierdie spesiale aand nie.

Hy is ’n goeie pa, en baie lief vir hulle, maar die kerk en vir die storie van geloof kry jy hom nie oorreed nie. Die vrou en haar kinders is toe kerk toe, dit was ‘n yskoue aand met sneeu, en die pa het by die kaggel gesit en wag vir hulle. Hy het skaars daar gaan sit, toe hy ’n dowwe stampgeluid vanuit die sitkamer venster hoor en hy skrik. Toe hy ondersoek gaan instel, het hy gesien dit is ’n klompie voëls, wat in die sneeu verdwaal het, en nou na die lig van die venster koers gekry het en teen die ruit vas vlieg. Hy het hulle vreeslik jammer gekry, en sy jas aangetrek en sneeuskoene, en die staldeur gaan oopmaak waar die kinders se ponies slaap.

So het hy probeer help om die voëls in die stal in te lok dat hulle ten minste nie van die koue sou verkluim nie. Hoe hy ookal probeer het, die voëls kon nie in die stal inkom nie. hulle vlieg orals maar wil niks van die stal weet nie. Hy waai met sy arms, en gooi broodkrummels maar als verniet. Die voëls is te dom, en later in die koue is hy amper natgesweet onder sy dik jas. “Ek wil hulle help maar hulle steek vas, hoe kan ek nou maak?” Al wat oorbly, brom hy byhomself, is dat ek ’n voël moet word, en voor hulle kan uitvlieg en wanneer ek in die stal kom, sal hulle my volg. As ek net vir .n oomblik lank ’n voël kan wees, terwille van die arme voëls.” Net toe, is dit          middernag en hy hoor die kerklokke deur die sneeunag lui. Dis Kersfees, dis Kersfees! Meteens kry hy nog kouer. Die woord, het mens geword. God, het mens geword. – Johannes 1:14

Dit kon hy nog nooit aanvaar, of glo nie. Dit was vir hom onnodig. Onwetenskaplik. Maar nou met die voëls, het dit vir hom verstaanbaar geword. Hy het gewens dat hy ter wille van hulle vir ‘n oomblik lank ’n voël kon word, sodat hy hulle na die warmte van die stal kon begelei.

Dit is wat die Seun van God gedoen het. Hy het mens geword, ter wille van die arme mense, wou Hy hulle help. So kon Hy hulle na die warmte en redding bring van sy teenwoordigheid. Die verhaal lei, dat die man neergesak het in die sneeu en warm trane oor sy wang gespoel het. Nou verstaan ek Here, nou verstaan ek hoekom U dit moes doen. Dit is genade om te kan verstaan, en te kan glo.

Gebed:

Here, dankie dat U mens geword het, en onder ons kom woon het. Amen.