Ek lees graag vandag vir ons ‘n gebed van Ronell Bezuidenhout. Jy is welkom om jou oë toe te maak en die woorde te ontvang:
Skepper van hemel en aarde;
U wat na elke skeppingsdag kon sê, “dit is goed…”
U wat die mens op die sewende dag gemaak het, en kon sê, “dit is baie goed…”
Vergewe ons dat ons leef asof U nie gesê het, “dit is goed; baie goed” nie.
Vergewe ons dat die kleurrykheid van U skepping
Tot ‘n grou, lugbesoedelde atmosfeer op leef;
Vergewe ons selfgesentreerdheid dat ons onsself
Sulke vergrype toelaat met ons planeet, asof ons self die die skeppers daarvan is.
Vergewe ons dat ons medemens reduseer tot swart en wit en bruin
En U reënbooggoedheid nie in elkeen erken nie.
Maak ons vry van selfsug en selfverryking.
Maak ons vry van gulsigheid en grypsug.
Maak ons vry van stereotipering en swak oordeelsvermoë.
U wat ons geseën het met oorvloedige seëning,
Dankie dat U nie moed opgee met ons nie.
Dankie dat U steeds met U herskeppingswerk voortgaan.
God van transformasie en vernuwing,
Gee tog nooit met U skeppingskuns moed op nie!
Ook nie met my nie
Amen