Psalm 46:2. “God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie.”
Waarvoor is jy vandag bang? Neem ’n oomblik en maak ’n lysie van die dinge wat jou angstig maak en waaroor jy saans wakker lê. ’n Mens mens moet voorturend planne beraam om vrees en kommer te hanteer en dit veroorsaak spanning. Ons doel is om die spanning uit die weg te ruim, maar net soos een bekommernis van die lys verwyder, is daar nuwe bekommernisse en vrese wat hulle plek vul. Daar is net altyd voordurend nuwe dinge wat ons bang en bekommerd maak. Hierdie teks wil jou vandag help om in hierdie realiteit te leef. Ons lewe nie in ’n volmaakte wêreld nie. Vrees is ’n integrale deel van ons menswees, maar so ook die geloof dat die Here my in dit alles ’n betekenisvolle lewe wil skenk. Sien dus vandag jou kommer-en-vrees-lys op ’n nuwe manier. Nie as iets wat dreig om jou lewe te vernietig nie, maar as ’n geleentheid om jou toevlug vandag by God te soek sodat daar in die hantering van kommer en vrees nuwe uitkomste sal realiseer.
Gebed
Vader in die hemel, vroeg in die môre roep ek tot U. Gee vandag my die woorde om met U te praat, help my om my verwarde gedagtes by U te bepaal. Ek kan nie op my eie bid nie, Here. In my is daar donkerte; by U is daar lig. Ek is eensaam; U verlaat my nie. Ek voel nietig en bang; U laat my nie alleen nie. Ek is rusteloos; by U is daar vrede. Ek vind bitterheid in my hart; U leer my geduld. U weë is vir my onbegryplik; U ken die pad waarop ek gaan.
AMEN