Gedagte vir die dag | Vrydag 29 April 2022

Vandag is Vrydag 29 April en ons gaan die volgende sewe dae deur middel van ’n #StaanSaam-reeks reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort.

Vandag is ons tema: Praat met ons.

Psalm 121:1-2 “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” Hierdie Psalm vra ’n vraag wat die meeste mense al gevra het. Waarvandaan sal my hulp kom? Gelukkig maak God ook van mense gebruik om ander te help en daarom wil ons jou dan uitnooi om met mense kontak te maak. Indien jy voel dat jy hulp, of gebede nodig het, maak dan gerus kontak met een van ons geestelike leiers of leraars.

Ontvang hierdie woorde van bemoediging uit 2 Kor 4:16-17 “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”

Vriende daarom moet ons altyd vol moed wees. Staan vandag saam en praat met ons en mekaar, want jy behoort. Plant ’n spekboom as ’n simbool van suurstof.  Laat dit ’n simboliese ruimte van spasie wees waarin jy uiting aan jou frustrasies en onsekerhede kan gee, sodat jy weer kan asem haal.

Staan saam en praat saam!