Die volgende paar dae gaan ons by ‘n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.
Lees: Rut hoofstukke 1 tot 4
Teks: Rut 3:9 “Hy vra toe vir haar: “Wie is jy?” en sy antwoord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u beskerming.”
GEDAGTE
Die verhaal van Rut is die verhaal van ’n vrou wat gekies het om die Here God van Israel te volg en gevind het dat Hy vol medelye en getrou is. Rut het gesien dat die Here betrokke is by die klein gebeurtenisse van ’n mens se lewe. Die verhaal van Rut, die Moabitiese vrou begin met ’n hongersnood wat in Bethlehem uitbreek. Elimelek, sy vrou Naomi en hulle seuns vertrek na Moab. Na ’n tydperk in Moab sterf Elimelek en Naomi se twee seuns. Naomi besluit om terug te keer na haar land. Rut word die skoondogter wat besluit om by haar skoonma te bly en saam met haar terug te keer na Bethlehem. Rut het gekies om deel te word van Naomi se lewe en daarmee saam ook God se volk, Op ’n besondere manier kruis Boas en Rut se paaie en so is Rut en Naomi verseker van ’n toekoms.
In Rut se verhaal sien ons hoe God gewone mense gebruik om buitengewone planne uit te voer. God werk op ’n besondere manier om Sy doel te bereik. Deur rampe, voorspoed rn deur verskillende verhoudings en gebeurtenisse heen, is Hy altyd aan die werk om Sy doel te bereik. Hy werk vandag steeds so. Net soos ons oorvloedige genade sien deur die losser Boas, sien ons oorvloedige genade deur ons Verlosser, Jesus Christus.
GEBED
Hemelse God en Vader, dankie vir ons Verlosser, Jesus Christus wat vandag nog deel van ons lewens is. Amen