Gedagte vir die dag | Vrydag 27 Augustus 2021

Filippense 4:12-14: “Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan.”

Deur die geskiedenis was daar baie inspirerende verhale oor mense wat vasgebyt het, wat volhard het en deurgedruk het om uiteindelik groot sukses te behaal. Dit is almal mense wat hulle nie deur struikelblokke laat onderkry het nie.

’n Paar name skiet by my op: Die stigter van Starbucks, Howard Schultz, het deur ’n klomp verskillende krisisse en struikelblokke gegaan voordat hy uiteindelik die wêreldbekende Starbucks koffiewinkel begin het, wat tans aan ongeveer 137 000 mense wêreldwyd werk verskaf. Hy het onder andere meer as 200 banke genader vir lenings voordat hy uiteindelik daarin geslaag het om die nodige fondse te bekom om Starbucks op die been te bring.

Ek dink ook aan iemand soos Abraham Lincoln, ’n vorige Amerikaanse president. Hy het verskeie kere vir verskillende politieke posisies in Amerika, selfs vir president gestaan, sonder enige sukses. Waar ander mense maklik sou tou opgee om hierdie droom te verwesenlik, het Lincoln keer op keer deurgedruk, vasgebyt en uiteindelik een van die bekendste presidente van die Verenigde State van Amerika geword. Of Thomas Edison, wat vir talle kere nie suksesvol was om die elektriese gloeilamp te ontwikkel nie. Uiteindelik het hy geseëvier; hy het met volharding voortgegaan om ’n revolusionêre verandering in die wêreld te maak.

Ons ken ook almal die stories van atlete wat tydens groot byeenkomste a.g.v. beserings uitgeval het. Wat net nie kon klaar maak nie, maar tog, met besering en al, deurgedruk het om mank by die wenpaal aan te kom, net om te kan sê: “Ek het deurgedruk, volhard en die wedloop voltooi!”

Een van die bekendste figure in die Bybel, die apostel Paulus, was ook ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat volhard en vasbyt.  Ons ken al sy uitdagings – die lyding wat hy moes deurgaan as ’n apostel van Jesus Christus, die verskeie kere wat hy in die tronk was, aan skipbreuk gely het, ens. Dit is hierdie selfde Paulus wat vasgebyt het en deurgedruk het om uiteindelik ook hier in die teksgedeelte te kon sê: “Ek weet van armoede, van swaarkry en honger ly. Maar ek het my nie daardeur laat onderkry nie, ek het steeds vasgehou aan die wete dat ek deur alles in staat is deur Christus wat my krag gee.”

Vriende, dit is deel van die vasbyt in die Christelike geloof. Om deurgaans deur die krag van die Gees, energie en stamina te ontwikkel, wetende dat dit die krag van Christus is wat ons  deur die moeilike tye dra.  Dit is sy krag, wat in wese opstandingskrag is,  wat ons help om aan te hou en ons wedloop te voltooi. Miskien is jou geestelike bene op die stadium lam, en ervaar jy jouself as ’n verloorder omrede jy te oorweldig is deur omstandighede om jou. Hou dan opnuut weer vas aan hierdie grootste waarheid : Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee – wat my laat opstaan, vorentoe laat gaan en help om struikelblokke te oorkom.

Gebed: Here, ons dank U vandag weereens vir u krag wat ons instaat stel om te volhard. Wees met ons, wees met my, help my om my oë op U gevestig te hou, wetende dat U die bron van my krag, en my geestelik stamina  is.

Amen.