Deuteronomium 10:16. Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie. Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.
Die misbruik van mag maak almal in ons land moedeloos en bevrees. Dit is maklik om die korrupsie wat in die dagblaaie verskyn, die fokus van ons aandag te maak en om die onreg wat elke dag voor ons oë gebeur, mis te kyk. Veral ook die onreg waaraan ons self aandadig is en nie raaksien nie. Vandag se teks troos, maar spreek ons terselfdertyd ook hard aan. Dat God oor die onreg heers wat ons nie kan beheer nie is ‘n groot troos. Ons glo dat God dit aan die lig sal bring om die mense wat daardeur onderdruk word, te verlos. Dat God terselfdertyd onpartydig is en hom nie deur ons idees en wense laat dwing nie, is ’n groot uitdaging. Die rede daarvoor is dat ons nie God kan manipuleer om teen mense op te tree soos wat ons verwag nie. Wat staan ons dus te doen? Die teks help ons: “Wy jou aan die Here en moenie hardkoppig wees nie”. Mag hierdie vertroue jou vandag help om die onreg in jou wêreld reg te hanteer.
Gebed
God, my Vader, lei my in elke opsig van my lewe: my tong, sodat ek nie onwaarhede kwytraak nie, my handelinge, sodat ek niks sal doen wat myself en ander in die skande steek of benadeel nie; my verstand, sodat ek nie bose en bitter gedagtes sal dink nie; my hart, dat dit van selfsug sal wegkom en U wil sal soek. Ek vra dit in die Naam van Jesus wat my krag is, want ek is swak.
Amen.