Markus 14:35-36. 35. Hy het toe ’n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36 Hy het gesê: ‘Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.’
Ons het in gister se boodskap gehoor dat om te bid beteken dat ons onsself doelbewus onder die wil van God stel. Ons het gehoor dat dit menslik is om te wil lewe volgens óns bepalings en voorwaardes, en nie volgens God s’n nie. Egte gebed is om bereid te wees om te verander tydens gebed. Ons word verander van ’n ingesteldheid op ons eie behoeftes en verwagtings na ’n ingesteldheid op die wil van God. Dit beteken dat egte gebed ons dikwels laat eindig op ’n ander plek as waarby ons begin het.
Waarom? Die rede hiervoor is God self. Want in gebed het ons met die lewende God te make. En God spesialiseer in verandering. God verander chaos in sy pragtige skepping. God verander verbittering en vyandskap deur vergifnis in versoening. God verander die kettings van skuld en sonde deur vergifnis in vrygemaakte lewens. God verander die ou, selfgerigte lewe in ’n nuwe, selflose en liefdevolle lewe.
En dít doen God deur gebed. Gebed verstel ons lewens. Gebed stel ons in op die wil van God. In gebed buig ons die knie voor God. Jesus het op die grond gaan kniel en gebid. Hy het die gebed op ’n ander plek ingegaan as wat Hy daaruit gegaan het. Hy het gegaan met die vrees wat Hy na sy menslike aard gehad het. Hy het die vrymoedigheid geneem om só na sy Vader te gaan, want daar was tussen hulle ’n verhouding van liefde en vertroue. “Abba,” noem Hy sy Vader wanneer Hy Hom in gebed aanroep: Pappie. Eg menslik het Hy gevra dat die lydensbeker hom asseblief verby sal gaan. Maar onmiddellik voeg Hy by: “Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”
Jesus buig die knie voor sy Vader. Deur gebed het Jesus die krag ontvang om die wil van God te doen deur die verskrikking van sy lydensweg te gaan trotseer. Mag die Here ook vir jou die geloofsmoed gee om jouself werklik te onderwerp aan die wil van God elke keer wanneer jy bid.
GEBED
“Doen slegs U wil, Heer. U wil met my. U Pottebakker, met my die klei. Vorm my en maak my net soos U wil. Op U bly wag ek, nederig en stil.”
Amen.