Gedagte vir die dag | Vrydag 25 Junie 2021

Hebreërs 12:6.  “Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou terugwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem”.

Hebreërs 12 praat met ’n tweede generasie gelowiges oor die realiteit van gebeure wat ons lewens anders laat verloop as wat ons gehoop en gedink het. Daarom die baie bekende eerste gedeelte wat na die teks opbou: “Hou die Here voor oë, dan sal jy nie geestelik moeg word en uitsak nie”.  Dit is in die lig daarvan om nie geestelik uit te sak nie, dat ons hoor hoe die Here ons skerp en lelike kante in die lewe aanspreek. Om toe te laat dat die Here op hierdie manier met ons werk en ons tot insig bring is ’n pynlike proses wat ons eerder kies om te vermy.  Ons verkies eerder oomblikke van insig wat ons goed laat voel en inspireer. Hoe praat die Here deur hierdie teks met jou? Hoe is Hy besig om jou gedagtes, jou eie wil en gevoelens te buig?  In watter rigting stuur hy jou, al het jy self nie kies om te gaan nie?

Gebed

Here, daar is vandag dinge oor myself wat ek eerder verkies om mis te kyk. Dinge wat niemand anders as ekself van bewus is nie. Dinge wat ek diep in my van ander wegsteek. Maar U Here deurgrond my. Ek is bewus dat U Gees alles in my raaksien en dat U my op bewustelike maniere deur gedagtes, mense en omstandighede lei, waar my voete natuurliksgewys nie sou kies om te stap nie. Dankie dat U vandag deur liefde hierdie plekke vir my toeganklik maak en dat ek daar my rus kan vind. Help my om U stem vandag deur ander en omstandighede te hoor sodat ek van rigting kan verander.

AMEN