Gedagte vir die dag | Vrydag 24 Junie 2022

Ons reflekteer vandag verder oor die teks wat ons gister gelees het. Ek lees dit graag weer vir julle uit Johannes 3: 1-8

Daar was ‘n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ‘n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

Ons word gebore en ontvang die lewe as ’n gawe uit God se hand. Ons ontvang ook talente en verskillende vermoëns. Verder groei ons ook in kennis en insig en ontdek op ’n dag dat ons iets verstaan. Ons word getroos in moeilike tye, ontvang vrede in ons gemoed, kalmte, rus en selfbeheersing. Ons ontdek dat ons versterk en verdra word en leer vertrou. Ons word geroer, geraak, beweeg, selfs begeester. Ons droom, ons hoop, word geïnspireer, skep nuwe moed, en beleef die wonder van vriendskap. Ons word gelei in besluite, bewaar in onheil. Ons word bemin en kan bemin. Ons word vernuwe en verander – nuut gebore en sien in ander, soms in onsself, iets ontluik soos geduld, vrede, trou en nederigheid. En wie weet van waar, of hoe?

Dit is die wonder van God se Gees. Sy aanwesigheid is altyd ’n afwesige aanwesigheid. Sy werking misterieus en verborge. En natuurlik kan alles wat in ons lewe gebeur ook anders uitgelê word, met ander verklarings, maar die diepste waarvandaan en waarheen word tog nooit volkome gepeil nie. Die wind waai waar hy wil – mag hierdie Goeie Nuus vir ons ‘n troos wees