Johannes 13:34-35. 34. Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
GEDAGTE
Dit is die heel belangrikste boodskap wat Jesus op aarde oor die liefde kom gee het. Wanneer Jesus gevra word wat die belangrikste van al die gebooie is, antwoord Hy dat ons God moet liefhê met ons hele hart, siel en kragte. Daarmee saam dat ons ons naaste moet liefhe soos onsself.
Terwyl Jesus op aarde was het Hy duidelik aan ons kom wys hoe om hierdie liefde uit te leef. Hy het Sy kosbare omgeeliefde gegee aan elkeen wat Sy pad gekruis het. Die wonder van Jesus se liefde is dat dit vir ons ook bedoel is. In die teks wat ons vandag gelees het, wys Jesus dat liefde die kenmerk van ons as dissipels moet wees.
Paulus beskryf ook in 1 Kor.13:7 die gewoontes van Jesus-liefde teenoor ander mense:
Jesus-liefde bedek alles: Dit sal nie die foute en gebreke van ander in die openbaar aan die groot klok ophang nie.
Jesus-liefde glo alles: Die liefde het twee kante. In ons verhouding met God beteken dit dat ons liefde vir God Hom op sy Woord neem vir wat Hy aan ons sê. En in ons verhouding met ons medemens wil liefde altyd die beste oor ons medemens glo.
Jesus-liefde hoop alles: Jesus het geglo geen mens se lewe is ’n hopelose saak nie. Die hoop-kant van liefde is die weiering om mislukking in jou eie of ander se lewe as finaal te aanvaar.
Jesus-liefde verdra alles: Deurdat ons alles verdra wat met ons gebeur, of wat mense aan ons doen, kan ons die negatiewe oorwin en verander tot eer van God.
GEBED
Hemelse God en Vader. Dankie dat Jesus vir ons U liefde kom wys het. Dankie dat U my ook liefhet. Mag ek hierdie liefde met ander deel. Amen