Gedagte vir die dag | Vrydag 23 Julie 2021

Psalm 146:5. Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.

Psalm 146 raai die geloofsgemeenskap aan om op die Here te vertrou en nie op mense nie.  Die rede waarom ons eerder God bo mense moet vertrou lê in God se stabiele karakter.  Jy kan daarop staatmaak dat Hy is en doen soos Hy Hom in die Skepping en die lewe openbaar.

As ’n mens ’n nuwe onderneming begin, ondervind jy dikwels oomblikke van twyfel en vrees.  Dit is verstaanbaar dat wanneer ’n mens die onbekende aandurf  jy bekommernis en twyfel sal ervaar.  Die grootste onderneming wat jy ooit as mens kan aanpak is die lewe self.  Elke dag is iets nuuts en jy weet glad nie wat op jou wag nie.

Die Here nooi jou uit om Hom as vennoot te neem in die lewe.  Hy verseker ons op verskeie plekke in die Bybel dat Hy altyd met jou sal wees.  Hy sal nooit van jou af wegdraai, of jou in die steek laat nie. Met hierdie wete kan jy die lewe aandurf en vorentoe beweeg.

Ek het hierdie gedagte raakgelees:

Laat ons ons vertroue in God stel, en laat ons troos vind in die wete dat alles wel sal wees, as dit geskied volgens die wil van God. Want Hy weet die beste wat goed is vir ons tydelike én ewige welsyn .(Outeur onbekend)

GEBED

Here ek vertrou my lewe aan U toe. Stap asseblief die pad van die lewe saam met my . AMEN